Die Stichting Zienderogen van Nederland het vanjaar weer die Oos-Vrystaat besoek om mense te help om beter te kan sien. Dié organisasie, wat 60 jaar gelede gestig is met die doel om soveel mense moontlik te help om beter te sien, het reeds ’n reuse-impak tydens sy jongste uitreik gemaak.
Linda Lokhorst, ’n bestuurslid van die stigting, het Bethlehem voorheen in 2016, 2020 en 2023 besoek, en is weer hier vir die 2026-uitreik. Sy word vergesel deur ’n span kundige vrywilligers, waarvan baie reeds vantevore deel van die span na Suid-Afrika was.
Hoewel die stigting internasionale uitreike na lande soos Ghana en Suriname (Suid-Amerika) onderneem, is Bethlehem sedert 2016 die enigste plek wat in Suid-Afrika besoek word. Hierdie projek word moontlik gemaak deur ’n samewerking met Bethlehem Round Table 60 en die Maluti Hooglandskool.

Die uitreik bestaan uit nege toetsdae en is nie net tot inwoners van Bethlehem beperk nie. Leerders van skole soos Virginia en Welkom is ook in die afgelope week en ’n half getoets. Teen Woensdag 11 Maart het die span reeds die volgende vermag:
- 1 046 oogondersoeke gedoen.
- 216 brille op voorskrif hanteer.
- 176 leesbrille uitgedeel.
- 23 sonbrille verskaf aan mense wat beskerming teen die son benodig, insluitend persone met Albinisme.
Pasiënte ondergaan ’n allesomvattende oogtoets by verskillende stasies waar verskeie aspekte van sig getoets word. Indien nodig, word oogdruppels gebruik om pupille te vergroot vir ’n dieper ondersoek, en pasiënte met katarakke word na spesialiste verwys.
Indien ’n pasiënt ’n leesbril benodig, kan hulle dadelik ’n raam uit ’n wye reeks ontwerpe kies en dit saamneem. Vir voorskrifbrille (soos verkyk- of multifokale lense) kies die pasiënt ’n raam wat gepas en verstel word. Hierdie rame word saam met die voorskrif na Nederland geneem.
Daar word die lense deur Bert Koopman van Koopman-optiek gemaak en in die gekose rame gesit. Die brille word dan teruggestuur na Suid-Afrika, waar die Maluti Hooglandskool seker maak dat dit by die regte pasiënte uitkom.
Die Stichting Zienderogen finansier die vrywilligers se vliegkaartjies en verskaf al die nuwe rame, terwyl skenkings van ander organisasies ook help. Bert Koopman het selfs ’n skeepshouer met toerusting na Suid-Afrika laat kom wat permanent hier bly.
Die span bring egter ook hul eie gespesialiseerde toerusting saam. Linda noem dat dit dikwels ’n uitdaging is om deur doeane te kom, maar danksy amptelike uitnodigings van die Maluti Hooglandskool en die Vrystaatse Minister van Onderwys, is alle papierwerk in plek.
Gedurende hul tyd in Bethlehem bly die span in die gastegang van die skool, waar hulle op die hande gedra word. Ná ’n dag van harde werk word die groep gereeld deur lede van die Bethlehem Round Table 60 getrakteer.

Linda en haar span is dankbaar teenoor die personeel van die skool – hulle help met die administrasie, afsprake en die regulering van pasiënte. Die skool stuur selfs sy eie bussie na ander skole om leerders vir toetse aan te ry.
“Dit help ons om slegs te fokus op die diens waarvoor ons gekom het,” sê sy. Die span geniet hul besoeke aan Bethlehem terdeë en is dankbaar vir die geleentheid om ’n blywende verskil in mense se lewens te maak.






You must be logged in to post a comment.