Ná ‘n welkome bui reën het Willie Ebertsohn en sy vriende op Saterdagoggend 21 Maart gaan blikskud ten bate van Ryno Strydom (34), wat reeds sedert 2004 met sy gesondheid worstel.
Strydom het ‘n virus opgedoen wat sy liggaam ernstig aantas en sy toestand deur die jare laat verswak het. Groot geldelike druk op die gesin het ontstaan, en sy ma moes uitdagings alleen oorkom. Strydom is die seun van Karin Jordaan, wat voorheen by Hospice in Bethlehem gewerk het.
Ebertsohn het verlede jaar ‘n artikel op Facebook gelees waarin Strydom se verhaal vertel is, en hy het dadelik besluit om te help waar hy kan.
Hy het Jordaan gekontak om haar situasie beter te verstaan en om ‘n plan te beraam.
“Ek het besef sy dra ‘n swaar las en moet haar seun dag en nag alleen versorg en bystaan,” sê Ebertsohn.
Tydens ‘n besoek aan hul huis het hy eerstehands beleef hoe sy Strydom versorg en selfs buisvoeding met groot toewyding en geduld toedien en bestuur.
Ebertsohn het sy vriende genader, die situasie verduidelik en hulle oortuig om saam die geldinsameling aan te pak.

Dit is goed ondersteun toe motoriste by verkeersligte stilhou, ruite afdraai en skenkings gee. Vragmotorbestuurders het hul toeters laat hoor, mense het gewaai en die gemeenskap het hul hart oopgemaak.
“Dit is besonders om te sien hoe mense saamstaan en mekaar ondersteun en ophef,” het Ebertsohn gesê.
Hy en sy vriende is dankbaar dat hulle ‘n verskil in Strydom en sy ma se lewe kon meebring.
Ebertsohn is reeds bekend vir verskeie projekte waardeur hy gemeenskappe dien; onder meer het hy al motorwagte by die Dihlabeng Mall bederf en ondersteun. In 2025 het hy homself simbolies laat “toesluit” om geld vir minderbevoorregtes in te samel en bewusmaking te help skep.
Die 2026-projek was vir hom besonders aangesien dit gefokus het op die ondersteuning van een gesin.
“‘n Mens kan net dankbaar wees vir elke dag en die gesondheid wat ons het,” meen hy.
Ebertsohn beplan reeds ‘n volgende projek, wat hy as “Seisoen 4” beskryf, om in die toekoms nog mense te bereik en te help seën.
Hy is dankbaar teenoor alle motoriste en gemeenskapslede wat bygedra en die projek ondersteun het.






You must be logged in to post a comment.