Vrydag 29 Augustus
Om 09:00 begin die fees met ‘n motiveringsessie wat deur Charl Marais van Kroonstad gelei word. Dit duur tot 10:30. Marais deel sy aanbieding van die dinamiese sessie met gemeenskapsleiers, geestelike leiers en sakelui. Martin Botha tree as seremoniemeester op.
“In ‘n tyd van politieke onsekerheid, ekonomiese druk en morele verval is dit nodig om te herbesin en te heroriënteer,” sê Marais.
Lede van die gemeenskap word genooi om saam te gesels en insette te lewer, om só ‘n verskil te maak.
Die jeug word genooi om van 14:00 tot 15:00 bymekaar te kom vir ‘n opwindende lofprysing-en-aanbiddinggeleentheid, onder leiding van pastoor Henry Rossouw. Die tema hiervan is “One Voice, One Generation, One God”.
Om 18:00 bring Ds Pieter Mohr van Niekerk ‘n kragtige boodskap.
Om 18:30 sit Activated Band die aand se program met lofprysing-en-aanbidding voort. Activated Band se lede, wat van uiteenlopende ouderdomsgroepe is en deur hul passie vir lofprysing-en-aanbidding verenig is, sal ‘n nuwe energie na die verhoog bring.
Ilán van Staden en Ruan Josh, wat albei oor die land heen bekend is, sal daarna kragtige boodskappe van hoop en geestelike vernuwing aan die gehoor bring. Ilán is ‘n Christelike musikant wat aanbidding in ‘n diepgaande geestelike ontmoeting omskep. Op sy beurt is Ruan Josh ‘n veelsydige sanger wie se loopbaan in die Suid-Afrikaanse musiek- en vermaaklikheidsbedryf reeds oor meer as 15 jaar strek. Dominee Pieter Mohr van Niekerk tree Vrydagaand as seremoniemeester op.
Saterdag 30 Augustus
Om 09:00 sal die bekende Andries Vermeulen en John Ed Honiball praatjies oor persoonlike groei en geestelike vernuwing lewer. Dit duur tot 11:00.
Intussen, om 10:00, kan die kleinspan nader staan vir die ATKV-poppekas wat die produksie Noodgeval aanbied.
Volwassenes kan hul beurt afwag tot 14:00 vir ‘n vertoning van die ATKV-produksie Roep van die leeu, gebaseer op CS Lewis se lewe. Peter Taljaard, Neels Vorster en Anneri Bosman sal op die verhoog te sien wees. Die produksie is uit die pen van Maretha Maartens, wat bekend is as vryskutjoernalis en veral as skrywer van kinder- en godsdienstige boeke. ‘n Hoogtepunt is dat Maartens die geleentheid Saterdagmiddag in Kroonstad sal bywoon.
Die aand se program begin soos vir Vrydag om 18:00, met Rusty Labuschagne wat sy buitengewone lewensreis met die gehoor sal deel. Labuschagne is tien jaar lank onregmatig in Zimbabwe gevange gehou. Sy se getuienis van transformasie en hoop bring inspirasie.
Daarna sal Throne Room en die immergewilde Jo Black die aand met lofprysing-en-aanbiddingsoptredes afsluit.
Sondag 31 Augustus
‘n Kragtige erediens word van 09:00 tot 11:00 gehou. Merkwaardige geestelike leiers neem hieraan deel. Arnold de Wet sal ‘n boodskap van hoop bring en saam met The Shelter, Marissa Verheij, en Ilán van Staden die lofprysing lei.









