Toe biblioteek niks werd vir gemeenskap wat ernstige behoefte daaraan het

Leerders en ander inwoners van Lindley sit al maande sonder toegang tot die dorp se biblioteek.
Leerders en ander inwoners van Lindley sit al maande sonder toegang tot die dorp se biblioteek. FOTO: Verskaf

Leerders van Lindley word al maande lank van ‘n belangrike plek vir studie en toegang tot inligting ontneem omdat die dorp se openbare biblioteek gesluit is.

Die situasie wek toenemende kommer onder inwoners, weens die negatiewe uitwerking wat dit op onderwys, werksgeleenthede en gemeenskapsdienste het.

Die DA in Nketoana het ‘n dringende beroep op Ntombizanele Beauty Sifuba, Vrystaatse LUR vir Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, gedoen om die Lindley-biblioteek so spoedig moontlik te heropen.

Volgens beskikbare inligting is die biblioteek reeds sedert Oktober 2025 gesluit. Inwoners sê hulle is grootliks in die duister gelaat oor die redes vir die sluiting en wanneer die gerief heropen.

Die voortgesette sluiting raak veral leerders, aangesien hulle nie toegang tot boeke, internetgeriewe en rustige studie-omgewings voor die Junie-eksamen het nie.

Werksoekers en inwoners wat daagliks op die biblioteek se dienste staatmaak, word eweneens benadeel.

Gemeenskapslede het hul frustrasie uitgespreek omdat geen tydelike reëlings ingestel is om die invloed van die sluiting te verlig nie.

Volgens raadslid Diphapang Mofokeng van die DA in die Nketoana-munisipaliteit is openbare biblioteke nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklike diens, veral in kleiner dorpe waar baie huishoudings nie oor betroubare internettoegang of voldoende opvoedkundige hulpmiddels beskik nie.

Die party het die departement van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning versoek om herstel- en instandhoudingswerk dringend af te handel sodat die biblioteek voor die Junie-eksamen kan heropen.

Duidelike tydraamwerke en aanspreeklikheid rakende die heropeningsproses is ook versoek.

Inwoners wag nou op terugvoering van die LUR.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article