Henrico van der Merwe (17) by die Star Raceway-baan in Klerksdorp.
Henrico van der Merwe (17) by die Star Raceway-baan in Klerksdorp. FOTO’S: Verskaf

Jaer se renbaan-drome só bereik


Op 17 jaar het die ovaalbaanrenjaer Henrico van der Merwe reeds ‘n Suid-Afrikaanse titel en ‘n nasionale tweede plek agter sy naam.

Dié gr. 12-leerder aan die Hoërskool Trio in Kroonstad het vanjaar sy staal in die afdeling vir hitsmotors (“hotrods”) getoon en sy visier nou op die nasionale teerbaan gestel.

Henrico se liefde vir motorsport het reeds op vierjarige ouderdom by die Welkom-motorsportklub begin. Op sewe het hy met “ninja midgets” op die teerbaan begin jaag en op 12 na die afdeling vir junior hitsmotors op die grondbaan geskuif. Op 14 het hy in die 1 660-klas op grond- en teerbane meegeding, voordat hy op 16 sy plek in die afdeling vir hitsmotors op die grondbaan ingeneem het. Henrico jaag nou in hitsmotors op grondbane en 2.1 “modifieds” op die teerbaan, met twee renmotors tot sy beskikking.

Sy prestasies het hom al op jong ouderdom onderskei. In 2018 het hy as tienjarige die Suid-Afrikaanse titel in “ninja midgets” verower. In 2021 het hy die Klein Karoo-kampioenskap in junior hitsmotors gewen. Vanjaar is hy die Suid-Afrikaanse naaswenner met hitsmotors.

“Ons huis staan vol trofeë, in my kamer alleen is daar 56,” sê Henrico.

Pa en seun, Hendrik (links) en Henrico van der Merwe.
Pa en seun, Hendrik (links) en Henrico van der Merwe, deel meer as net ‘n passie vir motorsport – hulle deel ‘n pad van toewyding, afrigting en prestasie.

Hy woon in Riebeeckstad, Welkom, maar met geen renbaan kan hy nie gereeld oefen nie. Hy gebruik hoofsaaklik wedrendag om sy vaardighede te slyp. Vir hom lê die aantrekkingskrag van ovaalbaanrenne in die spoed, strategie en adrenalien. Sy rolmodel is die veelvuldige Suid-Afrikaanse kampioen Kosie Weyers, wat hy bewonder vir sy nederigheid, hulpvaardigheid en vermoë om ander jaers aan te moedig.

Sy pa, Hendrik van der Merwe, rig hom af en speel ‘n belangrike rol in sy ontwikkeling. Henrico se volgende doelwit is om sy vaardighede na die nasionale verhoog te neem en die National Hotrod-toer op die teerbaan aan te pak.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article