Herstelwerk op R76-pad: wagtyd langer, Kroonstad verloor al meer inkomste

Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse Wetgewer, tydens die gesamentlike oorsigbesoek van die wetgewer se portefeuljekomitees aan die R76-pad tussen Kroonstad en Steynsrus.
Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse Wetgewer, tydens die gesamentlike oorsigbesoek van die wetgewer se portefeuljekomitees aan die R76-pad tussen Kroonstad en Steynsrus.

Herstelwerk op R76-pad: wagtyd langer, Kroonstad verloor al meer inkomste

Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse Wetgewer, tydens die gesamentlike oorsigbesoek van die wetgewer se portefeuljekomitees aan die R76-pad tussen Kroonstad en Steynsrus.
Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse Wetgewer, tydens die gesamentlike oorsigbesoek van die wetgewer se portefeuljekomitees aan die R76-pad tussen Kroonstad en Steynsrus.

STEYNSRUS – Ná meer as sewe jaar van konstruksie, vertragings en kontrakgeskille is die R76-pad tussen Kroonstad en Steynsrus steeds in ‘n swak toestand, ondanks meer as R400 miljoen wat reeds aan die herstel daarvan bestee is.

Gedeeltes van die pad wat opgradeer is, toon nou weer tekens van ernstige verval, wat nuwe vrae laat ontstaan oor die bestuur van die projek, die gehalte van die werk en die verantwoordbaarheid van die betrokkenes.

Die omstrede projek het hierdie week opnuut onder die vergrootglas gekom toe die Vrystaatse wetgewer se gesamentlike portefeuljekomitees oor openbare rekeninge en finansies, asook openbare werke, infrastruktuur, paaie, vervoer en menslike nedersettings, ‘n oorsigbesoek aan die padprojek afgelê het.

Volgens Armand Cloete, VF Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, wek die toestand van die pad ernstige kommer oor die wyse waarop openbare fondse bestee en die projek bestuur word.

“Die R76-projek het belastingbetalers reeds meer as R400 miljoen gekos, maar die pad is steeds nie behoorlik herstel nie. Nog meer kommerwekkend is dat gedeeltes wat reeds opgegradeer is, nou weer begin verbrokkel,” sê Cloete.

Die oorspronklike kontrak ter waarde van sowat R271 miljoen is aan die kontrakteur Sedtrade toegeken. Die projek, wat in 2019 begin het en teen 2022 voltooi moes wees, is egter deur voortdurende vertragings gekenmerk. Werk aan die pad het uiteindelik in 2023 tot stilstand gekom ná geskille tussen die kontrakteur en die Vrystaatse departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer.

‘n Verdere kontrak van ongeveer R146 miljoen moes daarna toegeken word om die projek voort te sit, wat die totale koste tot meer as R400 miljoen verhoog het. Volgens Cloete verdien die publiek duidelike antwoorde oor waarom honderde miljoene rand bestee is sonder dat die projek suksesvol afgehandel kon word.

“Ná jare se vertragings behoort die pad reeds voltooi te wees. In plaas daarvan word inwoners, boere en motoriste steeds daagliks met ‘n gevaarlike en swak pad gekonfronteer.”

Die VF Plus het die aangeleentheid reeds in 2023 na die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) verwys en dring steeds aan op ‘n deeglike ondersoek na die projek se bestuur, kontraktoesig en die gehalte van die werk wat verrig is.

Intussen moes plaaslike boere en inwoners volgens Cloete reeds uit eie sak betaal om sommige van die ergste slaggate tydelik te herstel.

“Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe self moet ingryp om noodsaaklike infrastruktuur bruikbaar te hou terwyl die staat reeds honderde miljoene rand aan dieselfde projek bestee het,” sê hy.

Louis Koch, Vrystaat Landbou se streeksverteenwoordiger vir streek nege in Steynsrus, sê die R76 is reeds vir bykans ‘n dekade onder konstruksie sonder noemenswaardige sukses.

“Die vakmanskap is nie van die gehalte wat inwoners en belastingbetalers verwag nie. Die swak toestand van die pad het ‘n verwoestende uitwerking op die plaaslike ekonomie,” het Koch gesê.

Volgens hom het die meeste verkeer wat voorheen tussen Noordwes, die Oos-Vrystaat en Lesotho deur Steynsrus beweeg het, alternatiewe roetes begin gebruik.

“Steynsrus verloor daagliks ekonomiese geleenthede omdat voertuie nie meer deur die dorp reis om brandstof in te gooi of aankope te doen nie. Dit raak plaaslike ondernemings en die breër gemeenskap direk,” het hy gesê. Die swak toestand van die pad het volgens Koch ook veiligheidsimplikasies vir gesinne. “Ouers verkies toenemend om hul kinders na skole in ander dorpe te stuur eerder as na Kroonstad, bloot omdat die pad te gevaarlik geword het,” het hy gesê.  

Steyn Groenewald, ‘n boer van die Steynsrus-omgewing, sê die probleem is reeds ongeveer 15 jaar gelede onder die regering se aandag gebring.

“Dit is nou die derde begroting wat vir die herstel van die Steynrus-Kroonstad-pad bewillig word, maar die probleme duur steeds voort,” het Groenewald gesê.  Hy waarsku dat die toestand van die pad ‘n ernstige bedreiging vir padgebruikers inhou.

“Die R76 is ‘n belangrike skakel na hoofroetes wat na KwaZulu-Natal, Lesotho en ander ekonomiese sentra lei. Ernstige ongelukke en skade aan voertuie word gereeld op hierdie pad aangemeld.”

Volgens Groenewald strek die ekonomiese gevolge veel verder as Steynsrus. “Kroonstad se ekonomie word ook geraak omdat inwoners wat voorheen hul inkopies, banksake en ander besigheid daar gedoen het, nou toenemend na Bethlehem reis. Dit beteken dat geld wat vroeër in Kroonstad bestee is, nou elders beland,” sê Groenewald.

Terwyl werk aan die projek voortduur, bly verskeie kernvrae onbeantwoord: Waarom het die oorspronklike kontrak misluk? Waarom het die koste met meer as R100 miljoen toegeneem? En wie sal aanspreeklik gehou word indien verdere herstelwerk aan die pad nodig sou wees? Vir inwoners, boere en belastingbetalers wat al jare lank wag op ‘n veilige en betroubare pad, word die wagtyd al langer terwyl die rekening steeds groter word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article