Zelda Wolmarans, 'n ervare spraakterapeut-oudioloog met bykans drie dekades se ervaring, het haar by die Kroonstad Gehoorsentrum aangesluit.
Zelda Wolmarans, ‘n ervare spraakterapeut-oudioloog met bykans drie dekades se ervaring, het haar by die Kroonstad Gehoorsentrum aangesluit. FOTO: Verskaf

Die Kroonstad Gehoorsentrum het ‘n nuwe hoofstuk betree met die aanstelling van Zelda Wolmarans, ‘n ervare spraakterapeut-oudioloog.

Met bykans drie dekades se praktiese, internasionale ervaring versterk sy die sentrum se dienslewering met ‘n gevestigde reputasie vir professionele kundigheid, integriteit en opregte pasiëntsorg.

Wolmarans het in 1997 aan die Universiteit van Pretoria (UP) as spraakterapeut-oudioloog gekwalifiseer, en sedertdien bou sy aan ‘n loopbaan wat deur toewyding en uitnemendheid gekenmerk word.

Kort ná haar studie het sy en haar man, Henk, vyf jaar lank in Engeland gewoon, waar sy as oudioloog in verskeie hospitale gewerk het. Henk was in dié tyd as biomediese ingenieur by kogleêre inplantings oor Europa heen betrokke.

Met die geboorte van hul eerste kind het hulle besluit om na Suid-Afrika terug te keer. Die egpaar het vier kinders. Hul oudste, Charlé, het in 2025 as ingenieur aan die Universiteit van Pretoria (UP) afstudeer.

Die tweede, Johanni, studeer arbeidsterapie; terwyl die jongste twee, Daniël en Carlien, ‘n tweeling, in gr.10 aan onderskeidelik die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria is.

Dandelion Valkenburg, wat Zelda Wolmarans met spraakterapie-dienste aan die Kroonstad Gehoorsentrum bystaan
Dandelion Valkenburg, wat Zelda Wolmarans met spraakterapie-dienste aan die Kroonstad Gehoorsentrum bystaan. Sy bedien onder meer leerders aan Trio Primêr, terwyl volwasse pasiënte behandeling by die praktyk ontvang.

Volgens Wolmarans het haar betrokkenheid by die praktyk in Kroonstad op ‘n besonderse wyse tot stand gekom.

“Ek glo vas dat dit in die Here se wil is en nie iets wat ek self sou beplan het nie,” sê sy.

Sy beskryf haar beroep as ‘n roeping en beklemtoon dat elke pasiënt met respek, eerlikheid en sorg behandel word.

“Dit gaan nie net oor tegniese kennis nie, maar ook oor menswees.”

Sy spreek waardering uit vir die werk wat oor baie jare deur haar voorganger, Petro Oosthuizen, gedoen is.

Wolmarans werk nou saam met Anneline van den Berg, praktykbestuurder, om kontinuïteit van diens en persoonlike sorg te verseker.

Afsprake is tans slegs op Maandae en Dinsdae beskikbaar. Pasiënte kan egter enige oggend van die week instap vir batterye, of om gehoorapparate vir versiening of herstelwerk in te gee.

Wanneer Wolmarans in Kroonstad werksaam is, word sy vergesel deur Dandelion Valkenburg, wat spraakterapie-dienste lewer. Valkenburg bedien onder meer leerders aan Trio Primêr, terwyl volwassenes behandeling by die praktyk ontvang.

Die praktykruimte word sedert die begin van die jaar met fisioterapeut Grietha du Plessis gedeel, wat tot ‘n selfs meer omvattende aanbod bydra.

Buite Wolmarans se beroep is musiek, die natuur, asook haar gesin vir haar baie belangrik. Al vier die egpaar se kinders bespeel klassieke instrumente en die gesin woon gereeld konserte by. Staptoere en reis vorm ook deel van hul gesinslewe.

Die Kroonstad Gehoorsentrum se kontaknommer vir afsprake bly onveranderd. Pasiënte kan 056 212 1478 skakel om ‘n afspraak te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article