Elsje Wium
Elsje Wium

Meisie (7) gegroet ná sy sterf weens longontsteking


’n Groot hartseer het die Kroonstad-gemeenskap getref ná die skielike afsterwe van die sewejarige Elsje Wium, wat deur baie as ’n “engelkind” onthou sal word.

Elsje, wat met Angelman-sindroom gebore is, het aanvanklik ’n verkoue ontwikkel wat later in ernstige longontsteking ontaard het. Sy is ná ‘n kort siekte op Vrydag 22 Mei in die Mediclinic Bloemfontein oorlede.

Haar gedenkdiens het vanoggend vanuit die NG Gemeente Kroonheuwel-Noord in Kroonstad plaasgevind waar familie, vriende en inwoners saam van haar afskeid geneem het. Die diens is deur ds. Christo Weideman gelei.

Volgens haar ma, Shandré Wium, is die diens eenvoudig en kindervriendelik aangebied om die afskeid vir Elsje se tweelingboetie, Edrich, makliker te maak. Die tweeling sou op 15 Junie hul agtste verjaardag gevier het.

Hoewel Elsje weens haar toestand nie kon praat nie, het haar familie altyd haar behoeftes deur haar glimlagte, gebare en sagte geaardheid verstaan. Vir haar geliefdes was sy ’n kind vol lig, liefde en opregte lewensvreugde.

Elsje, wat met Angelman-sindroom gebore is, het aanvanklik ’n verkoue ontwikkel wat later in ernstige longontsteking ontaard het. Sy is ná ‘n kort siekte op Vrydag 22 Mei in die Mediclinic Bloemfontein oorlede.
Hier is klein Elsje saam met haar tweelingboetie Edrich (7) en hul ma Shandré Wium.
FOTO: Verskaf

Haar liefde vir water en swem was een van die dinge wat haar die gelukkigste gemaak het. “As Elsje kon kies, sou sy heeldag in water gespeel het. Swem- en badtyd was haar gunsteling en dit was soms moeilik om haar weer uit die water te kry,” vertel Shandré.

Edrich, ’n graad 2-leerder aan die Laerskool Trio en ’n belowende jong sportman, het belowe om elke sportprestasie voortaan aan sy geliefde sussie op te dra.

“Dit voel steeds onwerklik dat Elsje so skielik van ons weggeneem is. Vir Edrich is dit besonder moeilik omdat hulle as tweeling so na aan mekaar was. Ons probeer hom troos met die wete dat sy nou veilig en gelukkig by Liewe Jesus is,” sê Shandré.

Elsje word ook oorleef deur haar ouer sussie, Chenique, ‘n onderwyser in Nederland. Sy het onmiddellik teruggekeer nadat Elsje ernstig siek geword het.

Haar pa, Graham, is ’n sakeman en Shandré is ’n onderwyser wat haar ná die tweeling se geboorte voltyds aan hul versorging toegewy het. Die Wium-gesin sê die liefde, ondersteuning en gebede uit die Kroonstad-gemeenskap het hulle deur een van die moeilikste tye van hul lewe gedra en hulle is so dankbaar daarvoor.

“Elsje het ons geleer om stadiger te leef en die klein wonderwerke van die lewe raak te sien en te geniet. Elke mylpaal wat sy bereik het, was vir ons ’n groot oorwinning. Sy was ons trots en ons hart se vreugde,” sê Shandré.

Angelman-sindroom is ’n seldsame genetiese toestand wat die senuweestelsel affekteer en ernstige ontwikkelings- en spraakprobleme kan veroorsaak. Kinders met die toestand sukkel dikwels met balans, beweging en kommunikasie, maar word terselfdertyd gekenmerk deur hul besondere vrolikheid, liefdevolle geaardheid en aansteeklike glimlagte. Volgens Shandré is daar tussen 200 en 300 kinders in Suid-Afrika wat met dié seldsame toestand leef.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article