Die VLU se Koppies-tak het 'n musiekmiddag aangebied waarop Leon Rossouw van Kroonstad as gasspreker opgetree het. Saam met hom is René Jonker (links) en Catrien Koekemoer.
Die VLU se Koppies-tak het ‘n musiekmiddag aangebied waarop Leon Rossouw van Kroonstad as gasspreker opgetree het. Saam met hom is René Jonker (links) en Catrien Koekemoer. FOTO’S: Verskaf

Die Vrouelandbou-unie (VLU) se Koppies-tak het onlangs weer die vermoë bewys om ‘n baie besonderse en kreatiewe byeenkoms aan te bied, met ‘n musiekmiddag.

Die saal en tafels is met ou plate en verskeie musiekinstrumente versier, wat ‘n nostalgiese atmosfeer geskep het.

Leon Rossouw van Kroonstad het as gasspreker opgetree, op dié geleentheid op 27 April, en sy passie vir Suid-Afrikaanse musiek met die lede gedeel. Sy entoesiasme het gou oorgespoel na die gehoor en gesellige gesprekke oor musiek het spontaan ontstaan.

Van links is Louren Roux, Maria Nel, Vivienne Fouché en Ernesti Viljoen.
Lede van Vrouelandbou-unie (VLU) se Koppies-tak het die musiekmiddag terdeë geniet en met groot entoesiasme aan die verrigtinge deelgeneem. Van links is Louren Roux, Maria Nel, Vivienne Fouché en Ernesti Viljoen. FOTO: Verskaf

Rossouw het die lede vermaak met ‘n noot-vir-noot-speletjie waartydens hul musiekennis deeglik getoets is. Die ouer lede het veral aanklank gevind by bekende treffers uit vroeër jare, terwyl die jonger lede hul kennis van hedendaagse musiek vinnig bewys het.

‘n Ou platespeler is gebruik om van die klassieke plate te speel en die nostalgie van vervloë dae het duidelik emosie by verskeie lede ontlok.

Die lede het ook meer geleer oor die kuns van suurdeegbrood bak en verskeie pragtige brode is vir die kompetisie ingeskryf. Volgens die lede raak suurdeegbrood maklik ‘n gunsteling sodra dit eenmaal geproe word.

Belangstellendes word genooi om die volgende vergadering, op Woensdag 27 Mei, by te woon. Die tema vir die byeenkoms is “Pak jou tas”, waartydens lede op ‘n denkbeeldige reis geneem sal word.

Rig navrae oor die vergadering aan Catrien Koekemoer by 069 595 1112 of Elsa Jonker by 084 600 6012.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article