Vrystaters en liefhebbers van die Oos-Vrystaat van oraloor word aangemoedig om hul steun te wys en hul stem uit te bring vir Bethlehem, wat pas as Vrystaatse finalis in Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie aangewys is.
Die aankondiging is op Sondag 19 April gemaak, waarna die stemlyne dieselfde aand, om 19:00, geopen het.
Die publiek kan Bethlehem in die kompetisie ondersteun deur ’n SMS met die woord “Bethlehem” na 33157 te stuur, teen R1,50 per SMS. Tot 30 stemme per telefoonnommer word toegelaat.
Bethlehem se plek onder die finaliste volg op ‘n merkwaardige omswaai die afgelope jaar. Danksy die volgehoue pogings van die Make Bethlehem Beautiful-beweging, plaaslike sakeondernemings en ander organisasies, in samewerking met ‘n eensgesinde gemeenskap, het die dorp nuwe glans gekry.
Hierdie samewerking om Bethlehem te verfraai en te laat herleef begin nou duidelik vrugte afwerp.
LEES OOK: Kwêla Dorp van die Jaar 2026: Time running out to vote for Bethlehem
Verdere inspirasie en leiding kom van Ignite and Revive van Kroonstad, ’n organisasie met meer as tien jaar se ervaring in gemeenskapsontwikkeling. Die organisasie, wat in 2022 gehelp het om Kroonstad as Dorp van die jaar te laat kroon, werk nou saam met betrokkenes in Bethlehem om die veldtog vir dié dorp te versterk en volhoubaar te maak.
Bethlehem, met sy ryke geskiedenis en prentjiemooi ligging aan die voet van die Witteberge, is ‘n gewilde bestemming wat gereelde besoekers trek.
Die wendorp in die kompetisie sal ‘n bemarkingsprys van R1 miljoen van kykNET ontvang, asook nasionale blootstelling wanneer die feestelike makietie om die titel te vier op televisie uitgesaai word.
Bethlehem kom as Vrystaatste dorp te staan teen Villiers en Bothaville, wat die kompetisie in dié provinsie besonder opwindend maak.





