Die Steynsrus-tak van die Vrouelandbou-unie (VLU) het ‘n besonderse mylpaal gehaal met sy 100ste bestaansjaar, wat op die area 1-konferensie feestelik gevier is.
Die tak, wat op 5 Junie 1926 gestig is, het oor ‘n eeu heen ‘n belangrike rol in die gemeenskap gespeel en het tydens die vieringe lede en gaste van oor die streek heen verwelkom.
Sewe takke uit die gebied – naamlik Edenville, Koppies, Parys, Sasolburg, Kroonstad, Holfontein en Steynsrus – het die geleentheid bygewoon en saam feesgevier. Voormalige ere-presidente van die Vrystaatse Vroue Landbou-unie, onder wie Frieda Zerwick, Vanda Gagiano en Gerda Pienaar, asook die huidige president, Elsabé Kotzé, het die verrigtinge bygewoon en hul steun betoon.

Inspirasie vir die dag
Die tema van die organisasie vir 2026, “Hoop soek ‘n stukkie brandhout,” het as inspirasie vir die dag gedien en is tydens die verrigtinge beklemtoon. Die boodskap het deelnemers herinner dat hoop nie passief is nie, maar aktief gesoek moet word, selfs in tye wanneer die lewe koud en stil voel.
Kotzé het haar trots uitgespreek oor die Steynsrus-tak se eeufees en die betekenis daarvan vir die organisasie en gemeenskap beklemtoon.
Sy het daarop gewys dat die mylpaal getuig van jare se toewyding deur vroue wat hulself deur volwasse opvoeding ontwikkel en ander geïnspireer het. Die organisasie bied steeds ‘n ruimte waar vroue hulself kan verryk, hul talente kan ontwikkel en hul plek in die samelewing kan uitleef.
Sprekers deel waardevolle woorde
Altesaam 100 vroue en vier mans het die geleentheid bygewoon en die dag se verrigtinge geniet.
Sprekers het waardevolle insette gelewer, onder meer Dalena Ferreira, wat die gehoor herinner het aan die betekenis van hul “Testament” en die verantwoordelikheid om hul erfporsie te leef. Verder het Dr Vian Herbst en Mariaan Herbst persoonlike getuienisse gelewer oor hoe hul geloof en erfenis hulle deur moeilike tye gedra het en hoe God se teenwoordigheid steeds krag bied.
Die verrigtinge is op ‘n hoogtepunt afgesluit met sang deur Helena Viljoen, wat die dag se boodskap treffend saamgevat het.
Lede van die unie het hul opregte dank uitgespreek teenoor almal wat die geleentheid bygewoon het, asook die borge wat bygedra het om van die dag ‘n onvergeetlike viering te maak.





