Die gemeenskap van Kroonstad en omgewing maak gereed vir ‘n fees wat ‘n invloed op mense se lewe gaan hê.
Dit is die Ignite and Revive- Christelike fees, wat einde Augustus in dié dorp sal plaasvind.
Herlewing is in die vooruitsig, en die fees op die naweek van 29 tot 31 Augustus beloof om aan elke feesganger ‘n besonderse geestelike ervaring te bied.
Die jongspan en volwassenes kan ewe veel na ‘n vol vermaaklikheidsprogram uitsien, waarvan ATKV-produksies die Saterdagoggend van 30 Augustus een van die hoogtepunte is.
Die bekende Andries Vermeulen en John Ed Honiball sal gasprekers op die fees wees.
Feesgangers sal nie Jo Black se vertoning die Saterdagaand wil misloop nie.
Die motiveringspreker Rusty Labuschagne en Throne Room is ook deel van die aandprogram.
Ander vermaak sluit in verfbalskiet en “smash-a-car”, wat deurlopend deel van die naweek se verrigtinge sal wees. Die jongspan kan na hartelus op springkastele baljaar terwyl hul ouers in die teetuin, met lekker eet- en drinkgoed, kan kuier.
‘n Groot verskeidenheid eetgoed, wat in almal se smaak val, sal by kosstalletjies te koop aangebied word.
Die fees word vanjaar by die Kroonstad-selgemeente in Reitzstraat aangebied.
Om by die fees betrokke te raak, of vir meer inligting en die volledige feesprogram, besoek igniteandrevive.co.za of volg Ignite & Revive op die sosiale media.
Volg ook VrystaatKroon se Facebook-blad vir meer inligting.
Toegang tot die fees is gratis vir almal.





