Viering by Voortrekkermonument
Wêrelddownsindroomdag is Saterdag 21 Maart by die Voortrekkermonument gevier.

Vrolike viering fokus op mense met Downsindroom


PRETORIA – Wêrelddownsindroomdag is op Saterdag 21 Maart gevier. Die datum is gekies om die unieke samestelling van drie chromosome 21 te simboliseer. Downsindroom is ‘n genetiese toestand waar ‘n persoon ‘n ekstra stel chromosoom 21 het – drie in stede van twee, bekend as Trisomy 21.

Dit is ’n dag wat nie net bewusmaking skep nie, maar ook stemme versterk en die wêreld herinner aan die waarde van elke lewe, ongeag die hoeveelheid chromosome.

Hierdie jaar is die dag op ’n besondere wyse by die Voortrekkermonument gevier met ’n vrolike en inklusiewe Buddy Walk – ’n inisiatief van die Downsindroomvereniging en die Pioniersentrum, aangebied in samewerking met Helpende Hand se tuisversorgingstudente.

Die Pionierswerf het reeds vroegoggend begin lewe kry met die opstel van stalletjies, vrolike en kleurvolle baniere, asook die kenmerkende geel en blou kleure wat hoop en bewusmaking simboliseer. Teen 10:00 het die amptelike verwelkoming plaasgevind, waarna deelnemers aan die Buddy Walk deelgeneem het – nie net as ’n fisieke aktiwiteit nie, maar as ’n simboliese tree vorentoe na ’n samelewing waar almal aanvaar en ingesluit voel.

Die dag se program het ’n verskeidenheid aktiwiteite gebied wat deelname en gemeenskapsgees bevorder het: van gesigverf en speletjies vir kinders, tot ’n tombola, toutrek en fotostasies waar kosbare herinneringe vasgevang kon word. Musiek en beweging het die hartklop van die dag gevorm en bygedra tot ’n feestelike atmosfeer vir almal teenwoordig.

’n Besonderse aspek van die dag was die betrokkenheid van vrywilligers, onder meer studente van Helpende Hand se tuisversorgingsprogram. Hierdie jongmense het hul tyd vrywillig afgestaan en met deernis, geduld en toewyding ondersteuning gebied waar nodig.

Volgens Dané van Wyk, voorsitter van Helpende Hand se opleidingsinstituut, bring dienslewering in gemeenskappe soos hierdie mense bymekaar en versterk dit ’n kultuur van ondersteuning en omgee. Sy beklemtoon dat sulke ervarings nie net ’n verskil in ander se lewens maak nie, maar ook jongmense vorm deur nuwe perspektiewe te bied en hul waardering vir elke individu se uniekheid te verdiep.

Vir Hanlie Swanepoel, organiseerder van die Downsindroomvereniging, is Wêrelddownsindroomdag ’n dag van trots, viering en bewusmaking. “Dit herinner my aan die ongelooflike waarde, unieke talente en bydraes van mense met Downsindroom,” sê sy. Vir die organisasie bied die dag ook ’n belangrike geleentheid om sigbaarheid te verhoog, gemeenskappe op te voed en families te ondersteun – alles met die doel om insluiting, begrip en aanvaarding te bevorder.

Die Pioniersentrum speel ’n sleutelrol in die skep van toeganklike en inklusiewe ervarings. Volgens Christa Jansen, bedryfshoof van kultuur en opvoedkundige programme, is dit vir hulle van kardinale belang om ’n ruimte te bied waar alle besoekers welkom voel. Sy wys daarop dat die sentrum se inklusiewe benadering daarop gemik is om die Monument relevant te hou deur samewerking met organisasies soos die Downsindroomvereniging van Suid-Afrika.

Hierdie verbintenis tot toeganklikheid is nie nuut nie. Tydens die reusebasaar op 9 Augustus 2025 het die Pioniersentrum ’n groep siggestremde besoekers verwelkom wat die modeltreintjies wou ervaar – ’n verdere bewys van hul toewyding om die erfenisterrein vir almal oop en betekenisvol te maak.

“Ons vertrou dat ons vandag vir die Downsindroomgemeenskap kon wys dat die terrein nie net fisiek toeganklik is nie, maar dat geskiedenis ook op ’n toeganklike, prettige en inklusiewe manier beleef kan word,” sê Jansen.

Wêrelddownsindroomdag wys dat mense met Downsindroom nie deur hul chromosome gedefinieer word nie, maar deur hul unieke persoonlikhede, talente en bydraes tot die samelewing. Hulle is deel van skole, werkplekke en gemeenskappe – en hul plek in die samelewing is ’n reg, nie ’n voorreg nie.

Die betekenis van 21 Maart strek dus verder as ’n enkele gemeenskap. Dit is ’n dag wat Suid-Afrikaners uitnooi om saam te staan, samesyn te bevorder en te erken dat erfenis – en menswaardigheid – aan almal behoort.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article