Emmerentia en Lecetia Lesch van die Hoërskool Lückhoff op die water.
Emmerentia en Lecetia Lesch op die water.
Eikestadnuus

Vlottenburg-tweeling oorsee om Suid-Afrika in kano-polo te verteenwoordig


Om gekies te word om jou land te verteenwoordig, is sekerlik een van die beste gevoelens, maar om dit saam met jou suster te doen, is nog beter.

Vlottenburg se tweeling-sportsterre Emme­rentia en Lecetia Lesch sal in September na Duisburg in Duitsland reis, waar hulle Suid-Afrika in die 2026-Kano-polo-­wêreldkampioenskap as lede van die o.21-vrouespan sal verteenwoordig.

Kano-polo word op die water gespeel met vyf spelers per span. Die spanne poog om in die twee 10-minute-helftes van ‘n wedstryd die meeste doele te aan te teken.

Gewild in europa

Die sport is soos waterpolo, maar spelers gebruik spesiale kano’s wat korter as gewone roei­kano’s is. Die Lesch-susters oefen weekliks op die Vredenheim-dam onder leiding van Susanne Fietz.

Die 16-jariges het kano-polo op agtjarige ouderdom begin speel nadat hul ouer suster, Chantelle Sampson, begin speel het.

Die twee Hoërskool Lückhoff-leerders het toe reeds geroei en neem steeds gereeld aan nasionale K1- en K2-kompetisies deel.

Hoewel Chantelle intussen dié gewilde Europese sport prysgegee het, het die tweeling aanhou oefen en speel. Fietz het in Berlyn as student kano-polo gespeel en later gehelp om kano-polo hier uit te brei.

“Wat ek die meeste geniet, is om deel van die span te wees. Ons almal werk vir dieselfde doel,” vertel Emmerentia.

Emmerentia en Lecetia Lesch van die Hoërskool Lückhoff saam met hul afrigter Susanne Fietz.
Emmerentia en Lecetia Lesch van die Hoërskool Lückhoff saam met hul afrigter Susanne Fietz.

Lecetia sê hoewel nie baie mense van kano-polo weet nie, is sy uiters trots dat sy vir die nasionale span gekies is.

“Toe ek jonger was, het ek nooit gedink ek sou só ver in die sport kom nie, maar nadat ek meer moeite gedoen het om te speel, het ek daarvan begin droom om internasionaal mee te ding, en nou gebeur dit. Dit is baie opwindend,” sê Lecetia.

Harde werk

Fietz verduidelik omdat die sport slegs vir ‘n dekade in Suid-Afrika gespeel word en só min spelers het, kan SA spelers in slegs drie afdelings in Duisburg deelneem – o.21-vroue en -mans en ‘n senior mansspan.

“Eers neem hulle aan Wes-Kaapse uitdagings as deel van ‘n klub deel, en hierna is daar provinsiale rondes en daarna keu­ring vir die nasionale span,” verduidelik Fietz. “Ons speel deur die hele jaar, maar dit hang ook grootliks van die weer af.”

Fietz sê dit is fantasties om twee plaaslike spelers in die nasionale span te hê. “Dit spreek van die harde werk wat hulle ingesit het. Hulle het vir oefeninge opgedaag, na my geluister en neem die sport ernstig op. As afrigter is dit wonderlik om te sien dat ons op ‘n [internasionale] vlak met die min hulpbronne wat ons tot ons beskikking het, kan deelneem.

“Die meeste van ons hulpbronne kom van die Paddlesport SA federasie en die res dek ons met skenkings.”

Skenkings is juis wat die Lesch-susters nodig het om later vanjaar na Europa te reis. Hulle het minstens R31 000 elk nodig, wat onder meer twee oefenkampe en vliegtuigkaartjies sal insluit.

Die twee se skoolgemeenskap help ook om geld vir hul toer in te samel. Volgens hul onderwyser Virginia Boraine is die Lückhoff-gemeenskap trots op die gr.11-leerders se prestasie, wat as inspirasie vir hul medeleerders dien.

‘n Disko-dans word op Saterdag 11 Julie by die Oostenberg Lodge in Kuilsrivier as geld­insameling gehou. Die tema vir die geleentheid is “Denim and White” en kaartjies kos R50 elk. sSkakel Esmerelda by 078  239  0118 of Jesika by 084  088  7274 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article