VIRGINIA – Die verhoor teen Jaco Roets (45), die man wat glo al veel langer as ‘n dekade “seksueel op die jong seuns van Virginia jag maak”, is tot Woensdag 23 September vir verdere verhoor uitgestel.

Hy is in 2025 vir ‘n derde keer sedert 2012 in hegtenis geneem in verband met aanklagte van seksuele misdrywe van dieselfde aard as voorheen.

Hy is reeds in 2012 vir seksmisdrywe gevonnis, en in 2018 is hy te midde van nuwe aanklagte van seksuele misdrywe op borgtog vrygelaat.

Sy borgtog is egter geweier toe hy op Maandag 8 Desember 2025 in die Virginia-landdroshof verskyn het op nuwe aanklagte van seksuele aanranding, die blootstelling van ‘n kind aan pornografie, uitlokking en voorbereiding.

Roets is ‘n “seksuele jagter”

Landdros Annaria Campher, van Winburg, het tydens die borgtogaansoek aangevoer dat Roets “seksueel op slagoffers jag maak.”

Roets het vanjaar vir die eerste keer op 27 Februarie weer ná Desember 2025 verskyn en sy deelverhoor is sedertdien in die streekhof in Virginia aan die gang.

Roets is as ‘n gevaar vir die gemeenskap se seuns bestempel, en die hof het gehoor dat Roets deurentyd dieselfde modus operandi volg om sy slagoffers te teiken.

Met sy hofverskyning in Desember 2025 het woedende inwoners ‘n sterk bewoorde petisie, waarvoor binne twee dae meer as 300 handtekeninge ingevorder is, aan die hof oorhandig.

Dié petisie is tydens Roets se borgtogaansoek gebruik.

Die hof het in Desember die openbare mening en gevoel, asook die sterk emosies wat ten toon gestel is, in ag geneem toe Roets se borgtogaansoek oorweeg is.

Roets se besonderhede is reeds in 2012 in die register vir seksoortreders ingesluit, nadat hy aan ‘n seksuele oortreding skuldig bevind is.

LEES OOK: Nog seksklagte: Borgtog geweier

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article