VIRGINIA – Die verhoor teen Jaco Roets (45), die man wat glo al veel langer as ‘n dekade “seksueel op die jong seuns van Virginia jag maak”, is tot 16 November vir verdere verhoor uitgestel.
Twee aparte hofverskynings wag vir Jaco Roets (45). Die eerste saak, wat verband hou met verskeie vermeende seksuele oortredings oor verskeie jare, was op 23 September in die streekhof voortgesit. Dié saak is tot 16 November uitgestel. ‘n Tweede saak teen Roets sal op 14 Oktober in die Virginia hof wees.
Twee aparte hofsake
Die sake sluit verskeie aanklagte in, naamlik seksuele aanranding, verkragting, die seksuele manipulering van kinders, statutêre verkragting, die uitstalling van pornografie aan ‘n minderjarige asook die vermeende besit van kinderpornografie.
Hy is in 2025 vir ‘n derde keer sedert 2012 in hegtenis geneem in verband met aanklagte van seksuele misdrywe van dieselfde aard as voorheen.
Hy is reeds in 2012 vir seksmisdrywe gevonnis, en in 2018 is hy te midde van nuwe aanklagte van seksuele misdrywe op borgtog vrygelaat.
Sy borgtog is egter geweier toe hy op Maandag 8 Desember 2025 in die Virginia-landdroshof verskyn het op nuwe aanklagte van seksuele aanranding, die blootstelling van ‘n kind aan pornografie, uitlokking en voorbereiding.
Landdros Annaria Campher, van Winburg, het tydens die borgtogaansoek aangevoer dat Roets “seksueel op slagoffers jag maak.”
Jag seksueel op slagoffers’
Roets het vanjaar vir die eerste keer op 27 Februarie weer ná Desember 2025 verskyn en sy deelverhoor is sedertdien in die streekhof in Virginia aan die gang.
Roets is as ‘n gevaar vir die gemeenskap se seuns bestempel, en die hof het gehoor dat Roets deurentyd dieselfde modus operandi volg om sy slagoffers te teiken.
Met sy hofverskyning in Desember 2025 het woedende inwoners ‘n sterk bewoorde petisie, waarvoor binne twee dae meer as 300 handtekeninge ingevorder is, aan die hof oorhandig.
Dié petisie is tydens Roets se borgtogaansoek gebruik.
LEES OOK: Nog seksklagte: Borgtog geweier



