WELKOM – Die saak teen Lynette Brummer en vyf ander is Vrydag 21 Augustus weer uitgestel, dié keer tot 30 September.
Streeklanddros Ludidi het bevestig dat al ses beskuldigdes se bestaande borgvoorwaardes onveranderd bly en streng nagekom moet word.
Hy het ook die lasbrief vir inhegtenisname teen Anna Fourie teruggetrek en die hof het haar sieknota as ‘n bewysstuk aanvaar.
Die saak sleep reeds ‘n jaar in die howe nadat ses persone in Julie 2025 in hegtenis geneem is. Ingeligte regsbronne is van mening dat hierdie is ‘n vertragingstaktiek om die verhoor eers in 2027 te laat begin. Die Welkom hof sluit 11 Desember en maak eers weer in middel Januarie 2027 oop.
Die beskuldigdes is Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Nomsa Ngcongwane (56), Prudence Majorobella (35), Mofolo Ntswaki (30) en Puseleletso Mola (33).
Hulle staan tereg op aanklag-te van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed te veroorsaak, ontvoering en oortredings van die Wet op Ouer Persone (Wet 13 van 2006).
Die staat beweer die beskuldigdes het die bejaarde Bettie Payne (81) fisies en geestelik mishandel terwyl sy in ‘n ouetehuis in Welkom se deel vir verswaktes gewoon het.
Tydens ‘n vorige hofverskyning het die hof beklemtoon dat die aanklagte uiters ernstig is en, indien skuldig bevind, swaar gevangenisstrawwe kan opgelê word.
Volgens getuienis wat vroeër in die verrigtinge aangebied is, het Brummer die slagoffer na bewering aangerand. Daar is ook verwys na ‘n stemboodskap waarin sy glo teenoor die slagoffer se dogter erken het dat sy die bejaarde vrou geklap het.
Die saak het landwyd aandag getrek nadat video-opnames uit die slagoffer se kamer in 2025 aan die lig gekom het. Die beeldmateriaal en foto’s toon na bewering verbale, geestelike en fisiese mishandeling, insluitend dat die vrou met kleefband vasgebind is. Foto’s wat as deel van die ondersoek bekend geword het, toon glo kneusplekke, krapmerke en beserings aan haar hande, gesig en lippe.
Brummer is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat, terwyl die ander vyf beskuldigdes elk borgtog van R1 000 ontvang het.
Haar borgvoorwaardes verbied haar onder meer om die ouetehuis te besoek, met getuies of die slagoffer kontak te maak, of binne ‘n radius van 100 meter van die ouetehuis te kom.
LEES OOK: Hofsake wat Goudveld grief tot laat Oktober uitgestel





