Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot 21 Augustus uitgestel
Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot 21 Augustus uitgestel. FOTO: Marti Will

Ouetehuis-aanrandingsaak weer uitgestel ná beskuldigde se operasie

Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot 21 Augustus uitgestel
Die veelbesproke hofsaak wat sal handel oor die beweerde aanranding van ‘n 81-jarige slagoffer by ‘n ouetehuis in Welkom, is tot 21 Augustus uitgestel. FOTO: Marti Will

WELKOM – Die opspraakwekkende hofsaak oor die beweerde mishandeling van ‘n 81-jarige vrou by ‘n ouetehuis in Welkom is Vrydag (10 Julie) in die Welkom Streekhof weer uitgestel.

Die saak is tot 21 Augustus uitgestel nadat een van die beskuldigdes, Anna Fourie (73), nie in die hof kon verskyn nie omdat sy in die hospitaal is ná ‘n operasie. ‘n Sieknota is aan die hof voorgelê en as bewysstuk aanvaar.

Anna Fourie en Lynette Brummer, beskuldigde 2 en 1, by 'n vorige hofverskyning. Fourie was nie Vrydag in die hof nie.  Foto: Marti Will
Anna Fourie (links) en Lynette Brummer (regs), beskuldigde 2 en 1, by ‘n vorige hofverskyning. Fourie was nie Vrydag in die hof nie. Foto: Marti Will

Streeklanddros Ludidi het ‘n lasbrief vir Fourie se inhegtenisneming uitgereik, maar die uitvoering daarvan uitgestel tot die volgende hofverskyning. Dit sal die staat die geleentheid gee om haar verblyfplek te bevestig.

Die saak is ook uitgestel omdat die prokureur wat beskuldigde een en twee verteenwoordig, aangedui het dat hy steeds wag op bykomende inligting wat reeds tydens die vorige hofverskyning aangevra is. Die staat het aangevoer dat die dokumente wel saamgestel is, maar dat ‘n administratiewe vertraging die oorhandiging daarvan vertraag het.

Die prokureur wat die ander vier beskuldigdes verteenwoordig, het nie teen die uitstel beswaar gemaak nie.

Streeklanddros Ludidi het bevestig dat al ses beskuldigdes se bestaande borgvoorwaardes onveranderd bly en streng nagekom moet word.

Die saak sleep reeds ‘n jaar in die howe nadat ses persone in Julie 2025 in hegtenis geneem is.

Die beskuldigdes is Lynette Brummer (64), Anna Fourie (73), Nomsa Ngcongwane (56), Prudence Majorobella (35), Mofolo Ntswaki (30) en Puseleletso Mola (33).

Hulle staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstige liggaamlike leed te veroorsaak, ontvoering en oortredings van die Wet op Ouer Persone (Wet 13 van 2006). Die staat beweer die beskuldigdes het die bejaarde vrou fisies en geestelik mishandel terwyl sy by ‘n verswakte-sorg-tehuis in Welkom gewoon het.

Tydens ‘n vorige hofverskyning het die hof beklemtoon dat die aanklagte uiters ernstig is en, indien skuldig bevind, swaar gevangenisstrawwe kan meebring.


Volgens getuienis wat vroeër in die verrigtinge aangebied is, het Brummer die slagoffer na bewering aangerand en met kleefband vasgemaak.  FOTO: Verskaf
Volgens getuienis wat vroeër in die verrigtinge aangebied is, het Brummer die slagoffer na bewering aangerand en met kleefband vasgemaak. FOTO: Verskaf

Volgens getuienis wat vroeër in die verrigtinge aangebied is, het Brummer die slagoffer na bewering aangerand. Daar is ook verwys na ‘n stemboodskap waarin sy glo teenoor die slagoffer se dogter erken het dat sy die bejaarde vrou geklap het.

Die saak het landwyd aandag getrek nadat video-opnames uit die slagoffer se kamer in 2025 aan die lig gekom het. Die beeldmateriaal en foto’s toon na bewering verbale, geestelike en fisiese mishandeling, insluitend dat die vrou met kleefband vasgebind is. Foto’s wat as deel van die ondersoek bekend geword het, toon glo kneusplekke, krapmerke en beserings aan haar hande, gesig en lippe.

Brummer is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat, terwyl die ander vyf beskuldigdes elk borgtog van R1 000 ontvang het. Haar borgvoorwaardes verbied haar onder meer om die ouetehuis te besoek, met getuies of die slagoffer kontak te maak, of binne ‘n radius van 100 meter van die sentrum te kom.

LEES OOK – Ses vermeende aanranders van ‘n bejaarde Welkomse vrou binnekort in streekhof

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article