Hoër Meisieskool Paarl se matrikulante van 2025 het goed presteer.
Hoër Meisieskool Paarl se matrikulante van 2025 het goed presteer.

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) wat verbonde is aan die Solidariteit-beweging het verlede week die top-20 Afrikaanse skole regoor Suid-Afrika bekendgemaak.

Volgens ‘n kort verklaring wat SOS uitgesit het is hul bevindinge gebaseer op die aantal onderskeidings per kandidaat van die 2025 Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) matriekeksamen.

“Afrikaanse skole is alle enkel-, dubbel- en parallelmediumskole waar daar ten minste 15 kandidate is wat Afrikaans Huistaal aangebied het. Om die Top-20-lys te haal, moes meer as ‘n derde van die matriekgroep Afrikaans wees.”

Hoër Meisieskool Bloemhof staan in die eerste plek met altesaam 140 matrieks wat eksamen geskryf het. Dié Stellenbosch-skool se matrieks het ‘n totaal van 508 onderskeidings opgeraap met gemiddeld 3.62 onderskeidings per kandidaat.

In die tweede plek is Hoër Meisieskool Paarl met 142 kandidate wat geskryf het, 487 onderskeidings gelewer het en ‘n gemiddeld van 3.42 onderskeidings per kandidaat behaal het.

Verlede Dinsdag (13 Januarie) het minister van basiese onderwys Siviwe Gwarube die 2025 matriekuitslae bekendgemaak. In die land se geskiedenis is dit die eerste keer dat die slaagsyfer op 88% nasionaal gestaan het. Die provinsiale slaagsyfers is as volg: KwaZulu-Natal (90.6%); Vrystaat (89.33%); Gauteng (89.06%); Noordwes (88.49%); Wes-Kaap (88.20%); Noord-Kaap (87.79%); Mpumalanga (86.55%); Limpopo (86.15%); en Oos-Kaap (84.17%).

In haar toespraak het Gwarube almal bedank vir hul bydraes tot die sukses van die klas vir 2025.

“Aan elke premier, elke LUR, elke departementshoof, elke distrikdirekteur, elke skoolhoof en elke onderwyser: hierdie uitkomste word dag vir dag, kwartaal vir kwartaal, jaar vir jaar gebou – en ons eer die werk daaragter.”

Die SOS-lys van die top-20 Afrikaanse skole is as volg:
1. Hoër Meisieskool Bloemhof
2. Hoër Meisieskool Paarl
3. Afrikaanse Hoër Meisieskool
4. Hoër Meisieskool La Rochelle
5. Hoërskool Menlopark
6. Hoërskool Waterkloof
7. Paul Roos Gimnasium
8. Hoërskool Durbanville
9. Hoërskool Parel Vallei
10. Hoërskool Linden
11. C & N Sekondêre Meisieskool Oranje
12. DF Akademie
13. Hoërskool Ferdinand Postma
14. Hoërskool Zwartkop
15. Hoërskool Outeniqua
16. Hoërskool Garsfontein
17. Hoërskool Stellenberg
18. Hoërskool Randburg
19. Potchefstroom Gimnasium
20. Hoër Jongenskool Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article