Kan dit drie-in-‘n-ry vir die Rooibulle wees vanjaar? Die manne van HTS Middelburg, mik om vanjaar weer die Noordvaal-plaat afdeling te wen. Die sogenaamde ‘three-peat’ is moontlik, maar maklik gaan dit nie wees nie.
“Hierdie gaan waarskynlik die moeilikste jaar wees om die Plaat te wen. Almal se eerste spanne gaan baie kompeterend wees,” verduidelik Jano Venter, Direkteur van Rugby, by HTS Middelburg. Die Rooibulle het in 2024 die beker met Transvalia gedeel, waarna hulle vir Middelburg Hoërskool in 2025 geklop het om die titel te wen.
Dié span gaan eers verby die twee spanne wat verlede jaar nog in die beker afdeling gespeel het, Nelspruit en Transvalia moet kom. Dan lê spanne soos Wesvalia en Zwartkop ook nog en wag. Al vyf dié spanne gaan vir die titel en promosie na die Beker afdeling kompeteer. Dit gaan waaragtig ‘n honde geveg in vanjaar se Plaat afdeling raak.
Volgens Venter, Is die NWU reeks goeie voorbereiding vir sy span wat jaar op jaar in dié kompetisie verbeter.
“Ons was twee jaar terug algeheel sesde, verlede jaar vierde en as ons vanjaar weer in die top vier kan eindig sal dit goeie voorbereiding bied. Dit bly ‘n moeilike kompetisie, ons eerste wedstryd is teen Waterkloof. Ons wil graag teen hulle wen want ons kom elke jaar bietjie nader. Ons speel weg wat die wedstryd veral moeilik maak,” het hy gesê.
Waterkloof is ook besig met vernuwing in hulle rugby strukture onder leiding van Cobus van Dyk. Die voorbereiding vir die Rooibulle se opmars na Plaat glorie gaan in die Noord-Suid Toernooi aan, waar hulle vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer speel. Op dié prestige toernooi, gaan hulle met Nico Malan en Trio moet probeer afreken.
“Dit is vir ons ‘n groot voorreg om weer na die Noord-Suid toernooi genooi te word. Ons wil die beste daarvan maak en onsself toets en bewys. As ons kan goed doen op dié toernooi dan wys ons vir die res van die skole rugby landskap dat ons hier is om te kompeteer,” het hy verduidelik.
Die Middelburgers se Plaat-veldtog skop op teen Kempton Park af. Die Parkies sal slaggereed wees om hulle stempel op die liga af te druk. ‘n Taai begin word nie makliker nie, met die volgende wedstryd wat die tradisionele ‘derby’ by Hoërskool Middelburg is.
Alhoewel Middelburg vanjaar in die Beker afdeling speel is daar onder die twee skole besluit dat die derby steeds moet aangaan.
“Ons speel al sedert 1950 aaneenhoudend teen mekaar. Dit is ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp, hier is winkels wat vroeër toe maak om deel van die optog deur die dorp te wees. Verlede jaar was daar ongeveer 15 000 mense deur die hekke. Dit moet plaasvind, in terme van bemarking vir die skool is dit net so groot geleentheid,” verduidelik Venter.
Venter erken dat dit voor hulle derde titel en promosie droom kan waar word, daar nog baie harde werk tussen nou en Augustus lê.


