BLOEMFONTEIN – Die Verkiesingshof  in Bloemfontein het ‘n aansoek van die uMkhonto WeSizwe Party (MKP) op 25 September van die hand gewys waarin die integriteit en betroubaarheid van die Verkiesingskommissie (OVK) se digitale stelsel vir die vaslegging en rapportering van stemme vir die 2024-nasionale en provinsiale verkiesings aangeveg is.

MKP het versuim om die verpligte prosedure te volg wat deur artikel 55 van die Verkiesingswet 73 van 1998 voorgeskryf word.

Luidens die uitspraak bestaan daar regtens geen bevoegde hersiening vir die verklaring van verkiesingsuitslae nie en is die MKP se aansoek gevolglik regtens nie bevoeg nie.

Die MKP se saak het gehandel oor die kiesuitslag elektroniese bord-voorval van 31 Mei 2024, toe die aanlyn-paneelbord vir ʼn rukkie geen uitslae vertoon het nie.

LEES OOK: NVG en ministerie kap terug teen dreigemente oor ondersoeke

Die hof het die OVK se verduideliking aanvaar dat die hoof-uitslagstelsel dwarsdeur die voorval ten volle operasioneel en ongeskonde gebly het.

Volgens die OVK is ‘n stelselopdrag tydens die proses per abuis op “nie gereed vir vertoning” gestel. Die ouditspoor het bewys stemuitslae gedurende hierdie tydperk is steeds vasgelê en geredigeer sonder dat enige data verlore gegaan het.

Die hof het ook foute op sekere stemdistrikverslae op die OVK se webwerf oorweeg. Betreffende dit het die OVK verduidelik dat die foute deur ‘n koderingsfout op die webwerf veroorsaak is wat tot ‘n filtreringsfout gelei het. Voorts het die Hof bevind dit had geen invloed op die amptelike uitslae nie, want die verklaarde uitslae is gegrond op die hoofuitslagstelsel, wat funksioneel onafhanklik van die openbare webwerf funksioneer.

Daarbenewens het die Hof bevind die OVK se weergawe is op bewese en onbetwiste feite gegrond, terwyl MK se saak op afleidings gesteun het.

Hoewel die hof MK toegelaat het om sy kennisgewing van mosie te wysig, het die party steeds nie ‘n saak vir regshulp of vir mondelinge getuienis uitgemaak nie.

Die Verkiesingshof het die MKP se aansoek van die hand gewys en beveel dat elke party hul eie koste betaal.

LEES OOK: Kieshof sê nee vir ANC wat OVK wou dwing om laat nominasies te aanvaar

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article