Die brandweerman Emmanuel Ramjoo met die kosbare vreugdebondeltjie.

Die spreekwoordelike ooievaar het Maandagoggend (9 Maart) as ‘n brandweerspan opgedaag om ‘n swanger ma met die geboorte van haar dogtertjie te help.

Emmanuel Ramjoo van die Strand-brandweerstasie en sy mede-pelotonlede het hul vaardighede met sukses ingespan om die jong ma in kraam deur die noodgeval te help.

Ramjoo onthou hy en sy span het pas vir die werksdag aangemeld. Hy was in die kontrolekamer besig met mediese voorraad toe die pa van ‘n mede-brandweerman die ma, Zoë Marias, wat saam met familielede was, ingebring het.

“Dit was net ná 09:00 toe meneer Cloete haastig met die pasiënt by die brandweerstasie ingestorm het,” onthou hy. “Nadat hulle aangekom het, het sy op ons navraag gesê sy is swanger. Hoewel sy feitlik nege maande swanger was, het sy gesê die baba se geboortedatum is vir April geskat. Ek het haar familielid gevra of hy enige vloeistof gesien het wat uitgevloei het. Hy het dit bevestig. Gevolglik het ons vermoed haar water het gebreek. Met haar toestemming het ek gekyk en gevind dat die baba se koppie besig was om te kroon.

“Dit was haar eerste kind, so sy het taamlik gesukkel. Terwyl die baba se koppie deur die baarmoederhals gedruk het, het ek opgemerk dat die naelstring styf om die baba se nekkie gedraai was.”

Ramjoo het verder verduidelik hoe hulle op hul mediese opleiding gesteun het om die lewensgevaarlike situasie te hanteer. “Ons het die naelstring versigtig van die baba se nek afgetrek, maar sy was effens blou. Ons was bekommerd oor haar suurstoftoevoer. Ons moes die geboorte versnel en die baba onmiddellik heeltemal uithelp. Toe die baba gebore is, het ons haar gestimuleer en haar kleur het gou verbeter. Teen die tyd dat hulle vertrek het, het sy gesond gehuil en selfs al aan die ma se bors begin suig.”

Altyd ‘n vreugde

As ‘n brandweerman wat die afgelope 15 jaar bo en behalwe sy normale pligte ook as ‘n gemeenskapswerker en pa opge-

tree het, sê Ramjoo dat sy eerste reaksie altyd is om sy opleiding, vaardighede en kennis aan te wend om in noodsituasies te help. Die res kom daarna.

“Dit was ‘n onbeheerde omgewing, maar ons het daarin geslaag om die ma se waardigheid deurgaans te beskerm – wat van kardinale belang is. Om te help met die geboorte van ‘n gesonde baba is altyd ‘n vreugde,” sê Ramjoo, wat nie eens meer kan onthou hoeveel keer hy al as dokter moes optree nie vir ma’s in kraam wat na die brandweerstasie gekom het in hul uur van nood, en veilig gehelp het dat die baba sy verskyning kon maak.

Marias is ná die geboorte in die Macassar-gemeenskapdagsorgsentrum opgeneem, waar sy en die baba deur mediese personeel ondersoek en versorg is voordat hulle huis toe kon gaan.

Marias onthou sy het die heeltyd vir haar ma gesê: “Ek voel nie reg nie,” maar haar ma en ‘n tante het haar oortuig dat die baba waarskynlik net draai.

“Ek was nie oortuig nie, want ek weet hoe dit voel wanneer die baba draai. My rug was seer. My ma het al die warmsakke wat sy kon kry, gebring om die pyn te verlig, maar niks het gehelp nie. Ek sê toe weer: ‘Mammie, ek sukkel al die hele nag; iets voel nie reg nie.’ Toe hulle besef ek wil druk, toe besef hulle ek gaan kraam. Ek het net ná 09:00 erge pyne gekry. Hulle het die oom langsaan geroep en hy het ons te hulp gekom. Hy wou ons nog na die Helderberg-hospitaal neem, maar toe sê ek: ‘Ek kan nie meer nie.’ Ons het toe besluit om by die brandweerstasie te stop vir hulp.”

Volgens Marias was almal baie behulpsaam en bedagsaam, en sy spreek weer eens haar opregte dank uit aan elkeen wat gehelp het.

Dawid Cloete onthou dat die bure hom om hulp gevra het en hy het sonder huiwering gehelp. “Ek het onmiddellik opgetree. Ek is bly ek kon hulle bystaan.”

Marias deel verder dat haar dogtertjie 2,99 kg geweeg het en Cleo genoem is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article