SOMERSET-WES – Die familie van ‘n 19-jarige jongman soek antwoorde nadat hy veelvuldige steekwonde opgedoen het terwyl hy in aanhouding was by die Somerset-Wes polisiekantoor.
Damian Mcwera, van Sir Lowry’s Pass Village, is Maandag (22 Desember) in hegtenis geneem ná ‘n verskil wat hy met familielede gehad het. Sy tannie, Petrolene Alberts, sê Mcwera is oorspronklik van Aberdeen in die Oos-Kaap, maar woon vir die afgelope drie maande by sy ma en stiefpa in Sir Lowry’s Pass.
“Hy is nie soos ander jongmanne nie. Hy is bietjie stadig en kan nie lees of skryf nie. Damian het glo sy ma se huis met klippe bestook en sy stiefpa het gevolglik ‘n klag aanhangig gemaak by die polisie,” vertel Alberts wat ‘n niggie van Mcwera se ma is.
“Ek en sy ma se suster het gehoor die polisie soek hom en dat hulle hom as ‘n voortvlugtige beskou, wat nie die geval is nie.”
Volgens Alberts het die polisie vir Mcwera by sy ma se woning gaan soek en hom nie gekry nie.
“Dit nadat hulle gesê het hy moet wegbly van sy ma se huis en toe hulle hom nie kry nie, word hy beskou as ‘n voortvlugtige. Ek en my ander niggie het toe besluit om hom self polisiestasie toe te neem nadat ons gehoor het hy word gesoek. Toe ons daar kom het [ons] sy omstandighede verduidelik en gevra of die polisie vir hom kan vrylaat in ons toesig met die doel dat ons verantwoordelik sal wees daarvoor dat hy by die hof opdaag vir sy verskyning, maar dit is van die hand gewys.”

Mcwera is toe gearresteer en moes Dinsdag (23 Desember) in die hof verskyn toe ‘n kennis ‘n ander familielid die nuus meedeel dat Mcwera opgeneem is in ‘n plaaslike hospitaal in Somerset-Wes.
“Die persoon het gesê Damian is opgeneem met steekwonde. Ons het gevra of hy seker is want volgens ons kennis is hy opgesluit. Die persoon het laat weet dat dit Damian is en dat hy omring is deur polisie. Die polisie het nie eens die ordentlikheid gehad om sy ma te laat weet nie. Toe ons haar bel het sy nie kennis gedra van enigiets nie.”
Die familie is diep ongelukkig oor wat gebeur het en sit met talle vrae.
“Sy ma het gesê sy gaan nie die saak netso los nie. Damian vertel hy was deur ‘n ander persoon gesteek wat saam met hom ‘n aanhoudingsel gedeel het.”
Alberts sê die speurder het hulle intussen ingelig dat die polisie die saak teruggetrek het en dat dit nog net by die hof teruggetrek moet word.
Kapt. F.C van Wyk, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat Mcwera aangeval is.
Hy sê Mcwera is gearresteer vir kwaadwillige saakbeskadiging wat onder die wet op huishoudelike geweld val.
“Later die middag was daar ‘n bakleiery tussen hom en ‘n ander 34-jarige verdagte, wat in die selle was op ‘n aanklag van besit van gesteelde eiendom.”
Volgens Van Wyk het polisielede onmiddellik ingegryp en Mcwera na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.
“‘n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is teen die 34-jarige verdagte aanhangig gemaak. Hy het op 23 Desember in die Strand-landdroshof verskyn vir die aanvanklike saak van besit van gesteelde eiendom. Hy word tans in Pollsmoor-gevangenis aangehou.”
- Die berig is aanvanklik gepubliseer sonder die polisie se kommentaar omdat dit nie teen die tyd van publikasie ontvang is nie, maar is intussen aangepas.



