Brandbestryders in die Kaapse Wynland het hul hande vol om brande wat tans in die gebiede van Wemmershoek en Paardeberg in die Drakenstein, en Kwaggaskloof in die Breedevallei woed en deur sterk winde aangevuur word, onder bedwang te bring.
Wemmershoek – Drakenstein
’n Groot bergbrand het in die berge bo ’n bessieplaas wat oorkant die gevangenis op die Wemmershoekpad geleë is, ontstaan.
Volgens ‘n verklaring van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) strek die vuurlyn wyd en word dit deur sterk wind aangevuur. Brandbestrydingsvoertuie en grondspanne van die KWDM en CapeNature is tans op die toneel. Die provinsiale rampbestuursentrum se Black Hawk-helikopter is aanvanklik ontplooi, maar is sedertdien herontplooi na die brand by Kwaggaskloof.
Hoewel daar tans geen strukture in onmiddellike gevaar is nie, vereis ’n aantal net-boorde beskerming.

Paardeberg – Drakenstein
Brandbestryders is ook tans besig om ‘n groot brand in die Paardeberg-gebied, in die noordelike deel van Paarl, met die hulp van Drakenstein-branddienste te beveg.
Saam met die Winelands-brandbeskermingsvereniging het grondeienaars in die gebied versoek dat lughulpbronne ontplooi word om met die beskerming van eiendom te help.
Kwaggaskloof – Breedevallei
’n Derde brand in die omgewing van die Kwaggaskloofdam buite Worcester, in die rigting van Villiersdorp, is aangemeld. Brandvoertuie en grondspanne is ontplooi en word bygestaan deur die provinsiale Rampbestuur se Black Hawk-helikopter.
Daar is ’n aantal eiendomme in die Kwaggaskloof-gebied, wat gewild is vir verskeie watersportaktiwiteite.



You must be logged in to post a comment.