Die Wes-Kaapse minister vir polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, het die inhegtenisname van ‘n tronkbewaarder by die Goodwood Korrektiewe Sentrum, wat vandeesweek met dwelms en selfone in sy besit betrap is, verwelkom.
Die beampte is Woensdag vroeg tydens ‘n padblokkade by die ingang van die sentrum voorgekeer waarna sy voertuig deursoek is, en daar op dwelms, selfone, en kondome afgekom is.
Die dwelms sluit in onder meer Mandrax-tablette, tik, en dagga.
Marais sê die inhegtenisneming beklemtoon die erns om korrupsie en misdadigheid in die strafregstelsel uit te roei.
Lof
Sy het die teenbende-eenheid en die departement van korrektiewe dienste se noodgeval-ondersteuningspan geprys vir die geteikende operasie Woensdag en bygevoeg dat amptenare wat hul posisies misbruik, en wat misdadige aktiwiteite fasiliteer, nie geduld moet word nie.
“Die beweerde optrede van die bewaarder is veral kommerwekkend, want die nagevolge strek veel wyer as die smokkelware in sy voertuig. Wanneer korrektiewedienste-amptenare toelaat dat dwelms en ander smokkelware die fasiliteit binnekom, skep hulle ook moontlik die geleentheid vir misdadigers om van agter tralies hul operasies voort te sit,” sê sy.
Marais sê veral selfone in die besit van verhoor afwagtende gevangenes kan ‘n gevaar inhou en voeg by dat dit moontlik gebruik kan word om getuies te intimideer, met ondersoeke in te meng, dat misdadige aktiwiteite sodoende gekoördineer kan word en dat dit vervolgings kan ondermyn.
Ondersoek
Sy beklemtoon dat die ondersoekspan alle bewyse moet navolg om vas te stel of die bewaarder alleen opgetree het, of dalk deelvorm van ‘n breër netwerk. Sy moedig hulle aan om na almal te kyk wat dalk saam met die bewaarder gewerk het.
“Indien daar ander amptenare, gevangenes, of lede van misdadige netwerke is wat hierby betrokke is, moet hulle geïdentifiseër word en voor die howe gebring word.”
Sy sê dié soort gedrag rig skade aan aan die reeds wankele verhouding tussen die gemeenskap, die polisie en die regstelsel.
“Gemeenskappe moet weet dat wetstoepassingsagentskappe ernstig is daaroor om misdadigers aanspreeklik te hou, maar ook diegene wat vertrou word in posisies van gesag wat hulle in staat stel om misdaad te pleeg,” sê sy.
Marais sê daar kan nie toegelaat word dat die harde werk van wetstoepassingbeamptes buite die gevangenis deur die optrede van individue wat misdadigheid binne die tronke fasiliteer, onklaar gemaak word nie.
“Die wat hul posisies misbruik om misdadigers te help, moet die volle mag van die reg in die gesig staar,” sê sy.
Volgens kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, is die waarde van die goedere sowat R65 000. Die 47-jarige verdagte sal in die Goodwood-landdroshof verskyn sodra hy amptelik aangekla word.
LEES OOK: Bewaarder ‘met kondome, sekspille, dwelms en selfone betrap’





