Die Wes-Kaapse polisie en Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die provinsie het die vonnisoplegging van vier mans van Elsiesrivier in verband met ‘n vlaag moorde in dié gebied vandeesweek verwelkom.
Die vier is lede van die Horrible Gang-bende, volgens die NVG. Alfonso Hendricks (33), Aubrey Rooi (32), Jade Taylor (26) en nog ‘n beskuldigde (23) is Woensdag 7 Oktober by die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis in verband met ‘n reeks moorde oor ‘n tydperk van drie maande. Laasgenoemde was minderjarig toe die moorde gepleeg is en kan daarom nie geidentifiseer word nie, sê Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder.
Vonnisoplegging
Drie van hulle, Hendricks, Rooi en Taylor, is direkte lewenslange tronkstraf opgelê vir klagtes wat verband hou met bendeaktiwiteite, moord, die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.
Hendricks is skuldig bevind op sewe aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Hy is sewe keer lewenslange tronkstraf opgelê en ‘n bykomende 111 jaar direkte tronkstraf. Rooi is skuldig bevind op vier aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, die onwettige best van ‘n vuurwapen en ammunnisie en is vier keer lewenslange tronkstraf opgelê met ‘n bykomende 66 jaar direkte tronkstraf. Taylor is skulidg bevind op een moordklag, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunise en is ‘n bykomende 21 jaar tronkstraf opgelê.
Die strawwe sal gelyklopend uitgedien word.
Beskuldigde nommer vier, wat 16-jaar-oud was ten tyde van die moorde, is 15 jaar direkte tronkstraf opgelê op drie aanklagte van moord, die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie. Die hof het gelas dat ‘n deel van sy bykomende 66 jaar tronkstraf gelyklopend uitgedien word.
Tydens vonnisverrigtine het die staat daarop gewys dat die beskdilgides geen rou betoon het nie en dat van die slagoffers ooggetuies, of moontlike ooggetuies was.
Arrestasie
Volgens die polisie is die groep in 2020 in hegtenis geneem ná ‘n vlaag bende-verwante moorde in Clarke Estate, Elsiesriveier wat tussen Desember 2019 en Februarie 2020 gepleeg is.
Konst. Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder, sê gedurende hierdie tyd is ‘n totaal van sewe slagoffers, waaronder twee vroue, vermoor. Een van die skietvoorvalle het gelei tot ‘n drie-dubbele moord.
Die saak is deur speur.sers. Theo van Wyk van die Elsiesrivier-speurtak ondersoek, wat in ‘n kort tydperk ‘n deurbraak gemaak het, en al vier beskuldiges aangekeer het, sê Gwala. Borgtog was suksesvol teengestaan en die groep is sedert hul in hegtenisneming agter tralies.
Gwala sê ná ‘n uitgerekte hofsaak is die beskuldiges vir al sewe moorde, roof en vuurwapen-verwante oortredings skuldig bevind en gestraf.
Die provinsiale polisiehoof lt.genl. Sizakhele Dyantyi het die strawwe verwelkom en die ondersoekbeampte en vervolgingspan geloof. “Die vonnisoplegging kom op ‘n belangrike tydstip aangesien die Wes-Kaap met massa-moorde worstel, en hierdie vonnisoplegging stuur ‘n baie sterk boodskap aan oortreders dat misdadigheid nie ongestraf gelaat sal word nie, en dat enige geweldadige misdaad die volle mag van die wet in die gesig sal staar,” sê Dyantyi.
NVG loof span
Die NVG sê die groep het die gemeenskap vir jare lank geterroriseer.
Adv Adrian Mopp, Wes-Kaapse direkteur vir openbare vervolging, het die vervolging- en ondersoekspan ook geloof vir hul toegewydheid en uiters noukeurige werkswyse wat die skuldigbevinding en tronkstraf verseker het.
“Jul toegewydheid het geregtigheid vir die slagoffers, hul families en die breër Clarke Estate gemeenskap verseker. Ons hoop dat die families nou genesing sal vind wetende dat elke poging aangewend is om die skuldiges verantwoordbaar te hou. Ons vertrou dat die uitslag geloof in die regstelsel herstel het, en dat dit as ‘n duidelike boodskap dien, dat diegene wat gemeenskappe terroriseer deur geweldadige misdaad en bende-aktiwiteite, die volle mag van die wet in die gesig sal staar,” sê Mopp.
LEES OOK: Rowers bind Blomtuin-gesin vas en jaag met hul motor weg




