Misdadigers het verlede week in Suikerbossiestraat in Blomtuin, Bellville, in ‘n middernagtelike huisroof toegeslaan.

Volgens inligting ontvang deur TygerBurger het die inwoners geslaap toe die mans die huis verlede Dinsdagnag omstreeks 02:00 binnegekom het. Dis onbekend hoeveel rowers betrokke was, en hoe toegang tot die huis verkry is.

Die huismense, wat later wakker geword het, is toe vasgebind, terwyl die rowers die huis geplunder het, die buit in die inwoners se motor gelaai en weggejaag het.

‘n Ander inwoner, Gerhard van Niekerk, het aan TygerBurger gesê dat daar by dié betrokke huis verbouings gedoen is en dit moontlik die oorsaak kon wees.

“Sekerheidsmaatskappye kan ook nie oral wees nie en die polisie het mos lankal sigbare polisiëring opgeskort. Al raad wat daar nou is, is maar net om jou eiendom meer te beveilig en meer alarmstelsels te installeer, want hierdie bose misdadigers sal net ongehinderd voortgaan,” sê hy.

LEES OOK: “Protect the two gentlemen” – Brackenfell woman prays for her armed assailants

Die provinsiale polisie se mediakantoor het die voorval bevestig.

“Bellville-polisie het ‘n huisroofsaak vir ondersoek geregistreer ná die voorval. Volgens berigte was die slagoffers aan die slaap toe onbekende verdagtes die perseel binnegekom het. Die verdagtes het elektroniese toerusting en klere geneem voordat hulle in die slagoffers se Honda Ballade van die toneel gevlug het.

“Die voertuig is later in Mfuleni gevind. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek,” sê sers. Wesley Twigg.

Volgens die nuutste misdaadstatistieke het vyf huisrowe tussen April en Junie in Bellville plaasgevind.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article