Skoolgroepe kan nou bespreek vir Vlooi en maats se terugkeer na Kunstekaap

Minke Marais as Vlooi.
Minke Marais as Vlooi.

Skoolgroepe kan nou bespreek vir Vlooi en maats se terugkeer na Kunstekaap


Vlooi en maats maak eersdaag weer – vir die 24ste jaar – hul terugkeer na die Kunstekaap-teater se verhoog.

Skoolgroepe kan nou bespreek vir Vlooi en die Verlore Fossiel wat van Donderdag 13 Augustus tot Maandag 31 Augustus op die planke gaan wees.

Daar is een openbare vertoning (oop vir die publiek) op Saterdag 29 Augustus.

Eldon van der Merwe (Wim) en Mienke Marais (Vlooi).
Eldon van der Merwe (Wim) en Mienke Marais (Vlooi).

Sinopsis

Dit is net nog ‘n doodgewone dag – ons maats, Vlooi, Wilma en Wim woel en werskaf in die tuin wanneer hulle skielik ‘n reuseontdekking maak. Flappie het dalk veel meer as net Vlooi se verlore frisbee begrawe. Vlooi vind ‘n yslike dinosourusbeen en voor jy kan sê “stegosourus” swiep die towersleutel hulle weg na ‘n tyd lank, lank gelede.

Vlooi en Wilma beland pens en pootjies binne-in ‘n oerwoud op ‘n verlate eiland. Wilma se broek bewe behoorlik as sy besef hierdie is nie leeuwêreld nie, maar T-Rex se agterplaas. Danksy ‘n vriendelike, en effe deur die vere, pterodaktiel, Terry, die vlieënde reptiel, voel hulle gou minder verlore. Terry neem hulle dadelik onder sy vlerk. Die ontmoeting is egter van korte duur, want Terry is besig om te vlug met die eiland se laaste dino-eier! Is Terry dan ‘n eierdief? Hy waarsku hulle egter dat hulle fyn in hul spore sal moet trap, want hulle is nie die enigste tweebeengediertes op die eiland nie.

Ongelukkig is daar die nare Professor Fosselina Voetspoor en haar onhandige handlanger, Robbies Relik, wat sommer gou hul planne in die wiele ry.

Fosselina is bekend daarvoor dat sy dinosourusse vang en hulle beentjies kaal kook en weer aanmekaar vasplak met superglue! Fosselina soek die eiland se laaste dino-eier vir haar versameling. Sy hou selfs lewende dinosourusse in haar museum aan, want hoe meer dino’s, hoe meer dollars. En as jy eers agter een van haar glasuitstalkaste beland het, kom jy nooit weer daar uit nie! As die laaste dino-eier nie uitbroei nie is dit dalk die laaste sien van die dino-blikkantien.

Avontuur

Gaan Vlooi en Wilma die nare Fosselina kan vastrek? Gaan hulle die laaste dino-eier kan veilig hou sonder dat hy kraak? En hoe gemaak as Fosselina die hele eiland met kameras dophou?

Trek aan jou stewels en jou safaripak, want hierdie avontuur is beslis nie vir bangbroeke nie. Hou maar ‘n sak toffies naby, net vir ingeval ‘n T-Rex jou jaag … want ons almal weet, die vinnigste manier om ‘n ry skerp tande aanmekaar vas te plak is met ‘n taaierige tongknoper-toffie!

Vlooi en die Verlore Fossiel is ‘n avontuur vir jonk en oud, want fossiele is ongelooflik – en al is hulle oud, is hulle beslis nog nie koud nie.

Die produksie is vervaardig deur Krazy Katz Produksiehuis van Marinda Engelbrecht en Margit Meyer-Rödenbeck. De Klerk Oelofse is die regisseur en Ilne Fourie het die teks geskryf. Coenraad Rall is verantwoordelik vir die musiek.

Die rolverdeling is Minke Marais, Devonecia Schwartz, Eldon van der Merwe, Kerscha Titus en Wian Taljaard. Die Vlooi-span is vanjaar weer genomineer vir beste kinderteaterproduksie vir die Kaapse-teatertoekennings.

Vertonings

Afrikaanse vertonings: Donderdag 13 tot Vrydag 21 Augustus en Maandag 31 Augustus om 09:30 en 11:00.

Engelse vertonings: Maandag 24 tot Vrydag 28 Augustus om 09:30 en 11:00.

Prys vir blokbesprekings (skoolgroepe): R85 per kaartjie.

Openbare vertoning: Saterdag 29 Augustus om 14:00. Kaartjies kos R100 tot R130 by Webtickets.

Besoek Kunstekaap-teater se webblad vir meer inligting.

Kontak marinda.vlooi@gmail.com of Louise by 071 688 3033 met navrae.

LEES OOK: Cape Town Opera presents family-friendly ‘Little Vixen’

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article