Frank Opperman en Margit Meyer-Rödenbeck is van Donderdag 13 Augustus tot Woensdag 19 Augustus by Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville op die planke in Eerste vir Alles.
Die gedugte akteurs span kragte saam om die oorspronklike power couple te vertolk in ‘n klassieke geval van ‘he said, she said’.
Proto-paartjie
Eeue nadat hulle uit die paradys gesmyt is, besin Adam en Eva oor die huwelik.
Kyk hier, dit was nie maklik om die proto-paartjie te wees nie, hoor? Alles moes vir die eerste keer uitgepluis word: liefde, kinders en huishou.

Noudat die laatlammetjie die huis gaan verlaat, het Adam en Eva weer binnekort net mekaar vir geselskap. Sien hulle kans vir nog ‘n honderd jaar saam en sal hul sondes hulle ontsien? Ná baie goed en kwaad het Adam en Eva vir oulaas ‘n appeltjie met mekaar te skil.
Lief en leed
Eva (Meyer-Rödenbeck), ‘n gefrustreerde kunstenaar, kry uiteindelik ‘n beurt om haar kant van die storie te vertel, die lief en leed van die eerste moeder en huisvrou. Adam (Opperman) glo ook nie hy’t dit maklik gehad nie: die handboek vir menswees is eers ná sy tyd geskryf.
Hierdie romantiese komedie gaan oor ou bene saam maak, veral as een die ander ‘n ribbebeen skuld. Wessel Pretorius is verantwoordelik vir die teks en regie.
Bespreek by www.dieboer.com of by 021 979 1911.
LEES OOK: Skoolgroepe kan nou bespreek vir Vlooi en maats se terugkeer na Kunstekaap




You must be logged in to post a comment.