Radio Tygerberg 104FM het vandeesweek ‘n Sakeontbyt aangebied waar verskeie sakeleiers onder een dak byeengekom het om te netwerk en idees uit te ruil. Die geleentheid is Woensdag 16 September by Bossa Phesantekraal gehou en is aangebied in samewerking met Brights Hardware.
‘n Uitgesoekte groep sakeleiers en verteenwoordigers van ondernemings is genooi vir ‘n oggend van gesprek, netwerk en ‘n blik op die ekonomiese toekoms van Kaapstad. Die gasspreker was Geordin Hill-Lewis, Kaapstadse burgemeester en Federale Leier van die DA.
‘n Boodskap van hoop en vooruitgang
Hill-Lewis se boodskap aan die sakegemeenskap het gefokus op hoop, groei en vooruitgang, en die belangrike rol wat ‘n funksionele stad en ‘n groeiende sakegemeenskap in werkskepping en ekonomiese ontwikkeling speel.
Onder die temas wat tydens die gesprek aangeraak is, was voortgesette investering in en opgradering van infrastruktuur, veiligheid en die skep van ‘n omgewing waarin ondernemings kan groei en meer werksgeleenthede geskep kan word. Hierdie temas sluit ook aan by Hill-Lewis se openbare beleidsboodskappe oor infrastruktuurinvestering, veiligheid, dienste en werkskepping in Kaapstad, sê die radiostasie.
“Ons is opgewonde oor die toekoms van ons stad. Goeie leiers is bereid om moeilike besluite te neem, en ons het vandag die voorreg om skouer te skuur met sulke leiers,” het Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van die Bloudruk Groep, by die geleentheid gesê.
Waves Foundation – ‘n golf van verandering
Die Sakeontbyt het egter nie net oor ekonomiese groei gegaan nie. Radio Tygerberg het gaste ook vertel van die stasie se nuwe inisïatief, Waves Foundation. Die beweging wil individue en besighede mobiliseer om prakties ‘n verskil te maak.
Besoek gerus wavesfoundation.co.za vir meer inligting of WhatsApp “Waves” na 0861 104 104.
LEES OOK: Agt finaliste gekies in Radio Tygerberg se “My School Hero”-veldtog





