Radio Tygerberg 104FM was vanjaar op soek na ‘n besonderse onderwyser wat nie net onderrig gee nie, maar elke dag die ekstra myl stap om ’n verskil in die lewe van leerders te maak. Met die “My Skool Hero” 2026-veldtog is agt besondere onderwysers as finaliste gekies – en nou is dit die publiek se beurt om die wenner te bepaal.
“Ons het vanjaar besluit ons wil graag ‘heroes’ in ons gemeenskap vier en onderwysers is beslis daardie mense wat ten spyte van moeilike werksomstandighede hul passie uitleef om ‘n verskil in ons jongmense te maak,” sê Rikus van Rooy, stasiebestuurder. “Hulle gee baie meer as net onderrig en raak baiekeer ‘n steunpilaar vir leerders. Daarom is hulle beslis ‘heroes‘.”
Wêreld-onderwyserdag
Op Wêreld-onderwyserdag aanstaande maand sal die wenner op ‘n spesiale byeenkoms by Radio Tygerberg aangekondig word. Help Radio Tygerberg nou om die wenner te kies. Luisteraars en die publiek het nou tot einde September om vir hul gunsteling-onderwyser te stem. Die goeie nuus is, indien jy gaan stem, kom jy in aanmerking vir ‘n trekking om ‘n R5 000- geskenkbewys van Spektra Stationers los te slaan. Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Jaco Londt, sal ook die spesiale oggend bywoon.
Die agt finaliste is:
- Heidi van Wyk van die Hoërskool Silversands: ‘n Onderwyseres wat met deernis leerders ondersteun wat dikwels uitdagende omstandighede beleef;
- Ronel van Dyk van die Paarl Skool: Sy moedig haar leerders aan om hul volle potensiaal in akademie, kuns, koor, sport en die lewe te bereik;
- Louis Crous van die Laerskool Bastion: ‘n Toegewyde onderwyser en rugby-afrigter wat ekstra klasse aanbied en voortdurend bereid is om die ekstra myl vir sy leerders te stap;
- Bonny Goosen van die Laerskool Simonsberg: Sy skep nuwe geleenthede en inisiatiewe by haar skool, terwyl haar liefde en ondersteuning van leerders altyd sentraal bly;
- Esme Hills van die Laerskool De Tyger: ‘n Passievolle musiek- en kooronderwyseres wat al die moontlike doen om haar leerders se talent te ontwikkel en hul drome te help verwesenlik;
- Jesse Lewis van die Hoërskool The Settlers: Hy fokus nie net op akademie nie, maar ook op leerders se welstand, selfvertroue en persoonlike ontwikkeling;
- Domé Swarts van die Primêre Skool Kasselsvlei: Sy laat leerders voel dat hulle raakgesien en gehoor word en moedig hulle aan om in hulself en hul vermoëns te glo;
- Nico Aldrich van die Laerskool Eversdal: Met 28 jaar ervaring is hy ‘n toegewyde onderwyser, mentor en rolmodel wat altyd bereid is om tyd vir ‘n kind te maak.
Wêreld-onderwyserdag word op Maandag 5 Oktober gevier.





