Jaco Visser van die Hoërskool Melkbosstrand eet ‘n rou ui terwyl Mia Venter, ‘n leerder, benoud toekyk.

Radio Tygerberg 104FM se jaarlikse veldtog “Vreesloos 2026” het verlede week begin.

Die veldtog is op die jeug gemik en is ‘n mengsel van die gewilde realiteitsprogramme Fear Factor en Survivor, maar met die belangrike boodskap dat jy vreesloos deur die lewe kan gaan ten spyte van uitdagings en jou omstandighede, verduidelik Cisca Badenhorst, woordvoerder.

Die gewilde omroepers Gerald Petersen en Mike Potgieter is die aanbieders van die program.

Die Hoërskool Melkbosstrand en Hoërskool Brackenfell was vanjaar heel eerste aan die beurt en daar is op Dinsdag 24 Maart (Melkbosstrand) en Donderdag 16 Maart (Brackenfell) besoek by die skole afgelê.

Dit is egter nie net die leerders wat uitdagings kry om te voltooi nie, maar ook die onderwysers – tot groot vermaak van die leerders natuurlik. By Melkbosstrand moes Jaco Visser, ‘n onderwyser, ‘n rou ui eet om punte vir die blou span aan te teken, sê Badenhorst.

By Brackenfell het die adjunkhoof, Roland Beck, die “Beanboozled”-uitdaging aangedurf. Hy het ‘n verskeidenheid jellieboontjies gekry om te eet – party van hulle was heerlik en ander absoluut aaklig. Beck het onder meer ‘n pynappelgeur en ‘n piesang-en-aarbeigeur-boontjie gekry, maar daar was ook twee wat soos vrot vis gesmaak het. Al het sy hele lyf geril soos hy gril, het hy dit vreesloos gedoen om die Brakkies se punte verder op te stoot, sê Badenhorst.

“Albei hierdie skole se skoolgees het ons verstom en dit was ‘n voorreg om Vreesloos 2026 op so ‘n hoë noot te begin. Ons besoek vanjaar weer 10 skole deur die loop van die jaar,” het Rikus van Rooy, Radio Tygerberg se stasiebestuurder, gesê.

Mike Potgieter van Radio Tygerberg 104FM met Roland Beck van die Hoërskool Brackenfell.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article