Radio Tygerberg 104FM Sis'ters
Verskeie kunstenaars het by die geleentheid opgetree.

Meer as 1 550 vroue byeen vir Sis’ters 2026 Vrouekonferensie


Die Kunstekaap Operahuis was Sondag gevul met lofprysing, hoop en diep emosie toe meer as 1 550 vroue van oor die Wes-Kaap en Suid-Afrika heen byeen gekom het vir Radio Tygerberg 104FM se uitverkoopte Sis’ters 2026 Vrouekonferensie.

Met die tema “Vryheid” het die dag vroue uitgenooi om opnuut die vryheid te ontdek wat slegs in Jesus Christus gevind word — vryheid van vrees, skaamte, seerkry, verwerping en die druk van die alledaagse lewe, lui ‘n verklaring deur Radio Tygerberg.

Deur kragtige aanbidding, inspirerende boodskappe en eerlike getuienisse is vroue aangemoedig om hul laste by God neer te lê en met nuwe hoop en geloof vorentoe te stap.

Radio Tygerberg 104FM Sis'ters
Meer as 1 500 vroue het die geleentheid Sondag in die Kunstekaap se Operahuis bygewoon.

Kunstenaars en gasspreskers

“Ons wou ‘n ruimte skep waar vroue die geraas van die alledaagse vir ‘n paar uur kon agterlaat en weer God se stem kon hoor. Ons gebed was dat elke vrou bemoedig, versterk en met nuwe hoop huis toe sou gaan,” sê Benescke Janse van Rensburg van Radio Tygerberg.

“Ons is diep dankbaar vir elke vrou wat deel was van hierdie dag. Om saam te sien hoe God harte aanraak, is iets wat ons nooit as vanselfsprekend sal aanvaar nie.”

Die konferensie het optredes en boodskappe van Benescke Janse van Rensburg, Jenna-Leigh Bilong, Gretha Wiid en Lindie Strydom ingesluit, terwyl die gehoor ook deur betekenisvolle aanbidding en kreatiewe produksies gelei is.

Een van die hoogtepunte van die dag was die bekendstelling van die WAVES Foundation, Radio Tygerberg se nuwe gemeenskapsinisiatief wat mense wil inspireer en toerus om deur eenvoudige dade van liefde ‘n blywende verskil in hul gemeenskappe te maak.

Met die leuse “Ordinary people. Extraordinary change,” wil WAVES Foundation ‘n beweging skep waar gewone mense saamstaan om buitengewone verandering te bring. Tydens die bekendstelling is vroue genooi om deel te word van die beweging en saam golwe van hoop, liefde en omgee deur Suid-Afrika te stuur.

Radio Tygerberg 104FM Sis'ters
Die geleentheid was deel van vanjaar se Vrouedag-feesvieringe.

Dankbaarheid

Radio Tygerberg het sy opregte waardering uitgespreek teenoor die Kunstekaap, die hoofborg Brights Hardware en al die ander vennote, vrywilligers, kunstenaars, tegniese spanne en diensverskaffers wat gehelp het om die dag moontlik te maak.

“Hierdie dag was soveel groter as ‘n konferensie; dit was ‘n ontmoeting met God. Ons glo die impak van Sis’ters 2026 sal lank ná die laaste lied voortleef — in huise, gesinne, kerke en gemeenskappe waar hierdie vroue elke dag leef en dien,” sê Janse van Rensburg.

Radio Tygerberg sien reeds uit na volgende jaar se Sis’ters-konferensie en bedank elke vrou wat deel was van ‘n dag waarop geloof versterk, harte aangeraak en ware vryheid gevier is.

LEES OOK: Groot steun vir Radio Tygerberg se kosveldtog

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article