Die Tygerberg Sakekamer het in samewerking met HOOP, Bokradio se gemeenskapsprojek, verlede Saterdag weer ‘n gesellige vroueoggend aangebied.
Die jaarlikse gebeurtenis, ‘n gewilde een op die Kaap se sosiale kalender, is dié keer by die NG kerk Stellenberg Markplein gehou.
Sakevroue kon die oggend saam geniet terwyl hulle geïnspireer is deur die gasspreker, die aktrise en Boer Soek ‘n Vrou- aanbieder Marciel Hopkins-Lourens wat haar suksesverhaal gedeel het.
Marciel was altyd ‘n vrou met kurwes, ‘n maat-14 op hoërskool, toe die skoonheidsideaal nog eng en onverbiddelik was.
“Jy moes maer en lank wees met daardie perfekte bikinilyf,” onthou Hopkins-Lourens wat van kleins af tydens haar kinderjare as plaasmeisie in die Boland oor die loopplank gedroom het.
Ná skool het sy drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer, waar sy in 2013 ‘n gasrol in die kykNET-misdaadreeks Die Boland-moorde gekry het. Daarna het sy ‘n honneursgraad in sielkunde voltooi.
Ek het niks gehad om te verloor nie, net ‘n bietjie gewig.
Modelwerk, sê sy, het vir haar onbereikbaar gevoel. Tot ‘n voormalige Mej. SA-finalis haar in 2015 aangemoedig het om in te skryf.
“Ek het niks gehad om te verloor nie, net ‘n bietjie gewig,” het sy vertel. Sy het 14 kg afgeskud en as een van die top-12-finaliste by Mej. Suid-Afrika geskitter.
Maar die pad na die glanslig was nie sonder prys nie. Om haar dieet te handhaaf, het haar baie gekos, en sy het gou besef sy sou dié uiterste lewenstyl nie kan volhou nie.
Die Mej. SA platform het egter vir haar die weg na ‘n internasionale modelloopbaan gebaan, en haar boodskap van selfaanvaarding by vroue laat weerklank vind.
Vandag omarm sy haar lyf soos dit is en inspireer vroue om dieselfde te doen.
Vroue veerkragtig
Sunel Beeselaar, voorsitter van die Tygerberg Sakekamer, sê dit was ‘n voorreg om met inspirerende sakevroue, leiers en entrepreneurs wat die ekonomie versterk hier te wees.
“Ons sakekamer is ‘n platvorm wat verbind en bemagtig. Ons glo dat ware groei nie net in syfers gemeet word nie, maar in die mense wat dit dra,” het sy gesê.
“As sakevroue of vroue wat hul mans bystaan in hul onderneming weet ons wat die waarde daarin is om mekaar te kan ondersteun en te bemagtig. Vandag vier ons nie net prestasie nie, maar ook potensiaal. Die voordeel van vroue in besigheid lê in hul veerkragtigheid, hul kreatiwiteit en hul vermoë om netwerke te skep.”
LEES OOK: Kraaifontein vrou se soeke na vermiste hondjie: Weet iemand waar klein Tinkie is?





