Ná ‘n desperate sewe maande lange gesoek na haar geliefde bokhondjie Tinkie, is Marilize Lemmer van Kraaifontein se hoop aan die kwyn.
“Maar net miskien sien die regte mens die berig raak, en weet waar Tinkie is,” het die moedige honde-mamma verlede week aan TygerBurger gesê.
Haar hart is gebroke en die trane lê baie vlak as sy aan haar geliefde hondjie dink, wat op 3 Februarie by haar huis in Zonnendal vermis geraak het. Marilize vermoed dat Tinkie deur ‘n man opgetel en later verkoop is, nadat sy by die erf uitgeglip het.
Sedertdien het sy al duisende pamflette uitgedeel, die strate vol gery, ‘n R10 000-beloning uitgereik, “spioene” ingespan, ‘n diere-kommunikeerder geraadpleeg en selfs met bendelede vriende gemaak in die soektog na Tinkie.
‘Ons waghondjie’
“Ek en my man hoop tans vir ‘n derde kind, en ek kan nie help om te dink hoe gelukkig Tinkie sou wees om nog ‘n baba in die huis te kry nie. Sy sou dit so geniet het. Sy was ons waghondjie en baie beskermend, so klein soos wat sy is,” sê Marilize oor die fraaie sewejarige klein Doberman Pinscher Chihuahua-kruis.
“Ons was besig met opknapping by die huis die dag toe sy vermis geraak het. Die hek was nog nie oop nie, en sy moes deur die aand uitgeglip het.
Marilize het haar dadelik op verskeie sosialemedia-groepe as vermis aangemeld, en ‘n Facebook-blad gestig. Kort voor lank het iemand met inligting gebel.
“Die vrou het in Darwinstraat vir haar Uber gestaan en wag toe sy ‘n hondjie met Tinkie se beskrywing in die straat af sien hardloop het. ‘n Man, moontlik haweloos, het agter haar aangehol en haar opgetel en verder gestap. Sy het vir my ‘n akkurate beskrywing van die man gegee wat ek dadelik op sosiale media gedeel het,” vertel sy.
“Só bel nog iemand my om te sê die man is saam met Tinkie by die Vlak- informele nedersetting by Goliath Estate opgemerk.”
Spoor gevolg
Marilize het haar na die informele nedersetting gehaas waar sy pamflette begin uitdeel het.
“Ek het mettertyd ‘n informant gekry wat my oë en ore in die nedersetting was, maar sy het my later gebel om te sê sy wil nie meer deel wees van die soektog nie, want sy ‘wil nie gedreig word nie’. Sy het ook vir my gesê ‘jy sal seker nooit weer jou hond sien nie’.”

Marilize het geweier om dit te aanvaar, en het ‘n beloning van R10 000 uitgereik en gereeld die nedersetting gaan besoek om met mense te praat. Sy het later weer inligting ontvang van inwoners dat die man nie in die nedersetting bly nie, maar net kom dwelms koop het.
“Die man het toe ook sy voorkoms verander deur sy lang hare af te sny, toe hy verneem ek soek na hom,” sê sy. Die Kraaifontein-polisie is om hulp gevra en het saam met hulle die Vlak deursoek, en later ook met mense in Joostenbergvlakte en Fisantekraal gaan praat.
“Baie mense het gebel, maar ek het nie geweet wat om te glo en wat om nie te glo nie,” sê sy.
Leidraad gekry
Voor die soektog begin het, het Marilize egter ‘n diere-kommunikeerder geraadpleeg om telepaties met Tinkie “kontak te maak”. Kom ons noem haar Gladys.
“Sy het vir ons gesê dat sy kon hoor, ruik en sien wat Tinkie sien. Waar Tinkie ook al was, was daar vleisreuke, mense wat in die straat braai en ook ‘n groot rooi 27,” sê Marilize en voeg by dat sy ‘n rooi 27 op ‘n muur by die Vlak gesien het weke nadat sy Gladys geraadpleeg het. Daar was ook baie mense wat buite gestaan en vleis braai het. Ek het dadelik geweet Gladys het iets beetgehad.
“Gladys het ook gesien hoe Tinkie opgetel word en op verskillende plekke buite geslaap het. Sy is darem met ‘n kombers warm gehou, en is goed na gekyk, iets wat my grootste vrees was met die komende winter. Ek het eers nie geweet of ek haar kon glo nie, maar als wat sy gesê het maak nou sin.”
Oor die volgende paar maande het sy al die inligting wat sy bekom het op die FB-blad gedeel met die hoop dat iemand die man sou sien. “Maar hy het onder die radar gebly. Hy was nie van plan om vir Tinkie terug te gee nie, want hy is ‘n loner en het seker lief geraak vir haar.”
Gedurende dié tyd kon Marilize ook vasstel wie die man was en waar hy vandaan kom. “‘n Vrou het gebel om te sê die man was haar ma se broer en dat sy met hom sal gaan praat. Sy het ook genoem dat sy familie hom uitgeskop het as gevolg van sy dwelmgebruik.
“Hy het glo vir haar gesê hy het nie die hondjie nie, maar het baie verdag opgetree asof hy iets weet maar nie wil sê nie. Ek het hom ook ‘n paar keer self gaan soek en gevra waar my hond is. Ek vermoed nou dat hy Tinkie verkoop het toe dinge te warm geraak het vir hom.”
Diefstalsaak geopen
Marilize het in April ‘n diefstalsaak by die polisie geopen, maar dié is in Junie sonder enige sukses gesluit. “Dit het lank gevat om die konstabel te oorreed om die saak te open. Net omdat Tinkie asem haal, beteken dit mos nie sy is nie belangrik nie,” vertel Marilize moedig.
“Dis nou al sewe maande later en die ou wil nie praat nie, die polisie kan nie help nie, en ek weet nie meer wat om te doen nie. Almal soek na Tinkie, en Gladys voel Tinkie is nog in Kraaifontein, daarom gaan ek die soektoeg uitbrei na ander dele van die dorp.
“Dis vir my baie moeilik. Ek huil baie, en my hart voel leeg. Sy was my klein skaduwee, oral by my. Soos enige bokhondjie is, is sy maar bietjie nukkerig, maar baie liefdevol. Selfs die katte mis haar.”
Enigiemand met inligting oor Tinkie kan Jovan Lemmer by 081 319 4080 bel.
LEES OOK: FAK-Skryf’it-finalis Armand de Vries: ‘Wees braaf en sê wat jy voel’




You must be logged in to post a comment.