Spanning loop hoog by die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie met die top-tien-finaliste wat so pas aangewys is.
Armand de Vries, wat tans in Kraaifontein woon en by Monument Park Hoërskool in Kraaifontein skoolgegaan het, is een van dié finaliste, met sy liedjie “Verlore”, ‘n oorspronklike verwerking.
Vir Armand is die FAK-Skryf’it-kompetisie ‘n ongelooflike platform wat aan skrywers ‘n geleentheid bied.
“Almal wat betrokke is, is fantasties. Dit is ‘n groot voorreg vir my, maar ‘n nóg groter voorreg om ook ander te kan inspireer om liedjies te skryf,” het hy gesê. “Mense en klank fassineer en inspireer hom om te skryf,” voeg hy by.
Liedjie in die motor geskryf
Om die FAK-Skryf’it 2026-kompetisie te wen en sy liedjie oor die radio te hoor, sê Armand sal vir hom baie betekenisvol wees.
“Ek het ‘n gedeelte van my liedjie in die motor geskryf, so dit sal nogal snaaks wees om dit oor die radio te hoor terwyl ek bestuur. Om FAK-Skryf’it te wen, sal geboorte gee aan my Afrikaanse-musiek loopbaan, en daaroor is ek baie opgewonde.”
Sy raad aan voornemende liedjieskrywers is eenvoudig en kragtig. “Hou aan skryf. Hou aan kanse vat. Wees braaf en sê wat jy voel.”
Dit was ‘n verbete stryd oor die afgelope vyf stemrondes toe die publiek vir hul gunstelingliedjies uit die vier gekose liedjies van elk van die kompetisie se vyf ghoeroes of mentors gestem het. Die vyf ghoeroes is die bekende Afrikaanse musiekpersoonlikhede Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf du Toit van Spoegwolf, John-Henry Opperman van Klopjag-faam en Ampie.
Die beste oorspronklike liedjie en beste KI-gesteunde liedjie vir elke ghoeroe is aangewys. Hierdie tien liedjies ding nou om die gesogte FAK-Skryf’it-titel mee, met die publiek wat ’n deurslaggewende rol speel om te bepaal watter vyf liedjies na die finale ronde deurdring en watter lied uiteindelik as die wenner aangewys word.
Viering van kultuur
Die FAK Skryf’it-liedjieskryfkompetisie het in die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike landstaal begin, met die oortuiging dat die volgende groot Afrikaanse treffers êrens wag om ontdek te word, liedjies wat sal leef in die harte van mense, gesing word op feeste, by troues, in kerke en in huise.
Ná ‘n suksesvolle eerste jaar het die FAK besluit om die kompetisie weer die jaar aan te bied.
“Die kompetisie staan as ‘n monument van kreatiwiteit, kultuur en taal en ‘n beweging wat die rykdom, emosie en krag van die moedertaal vier,” meen die FAK.
“Die droom is om ‘n nuwe Afrikaanse treffer te ontdek wat harte aanraak, geslagte verbind en vir die volgende 100 jaar weerklank gee in die harte van Afrikaanssprekendes. Die visie is om ‘n toekoms uit te kerf waarin nuwe stemme in die Afrikaanse musiekwêreld opstaan, jong, vars liriekskrywers en melodiebouers wat Afrikaans met vuur en waarheid laat sing. Liedjies wat herinner, hoop en genees.”
Stem van 28 Augustus tot 3 September op die FAK Skryf’it webwerf vir jou gunstelingfinalis om ‘n plek in die top-vyf te verseker.
LEES OOK: FAK vereer Eugène Marais se nalatenskap met vertoning van Die Wonderwerker



