Onkruid en dorings in lushof verander in die hartjie van Protea Village

Die hele straat kan nou die mielies geniet.
Die hele straat kan nou die mielies geniet.

Onkruid en dorings in lushof verander in die hartjie van Protea Village


Toe Theo Dippenaar in 2018 in Boekenhoutsingel in Protea Village, Brackenfell, ingetrek het, was die munisipale grond voor sy deur ‘n neerdrukkende gesig — net sand, onkruid en dorings.

Vandag is dit ‘n welige tuin waar kinders elke aand speel en vrugtebome in oorvloed staan. Dit alles is die werk van een man.

“Ek het die oop stuk veld destyds een kyk gegee en vir my vrou gesê ons kan nie in so ‘n vuil plek woon nie,” vertel hy, en voeg by, “die nuttelose grond kon benut word vir die hele gemeenskap”.

Hy het hand aan die ploeg geslaan en begin skoonmaak en kort voor lank is sy eerste mielies en koolplante geoes vir almal in die straat om van te eet.

“Dit was harde werk aan die begin,” sê Theo. “Ek het water van my huis af aangedra met ‘n gieter om die plante aan die lewe te hou. Later het ‘n buurman vir my gesê dat daar wel ‘n kraan en sproeiers op die perseel was — alles stukkend en lankal vergete.”

Die toerusting is toe skoongemaak, gediens en deels vervang, en kort daarna het die gras begin groei.

Die tuin het vinnig getransformeer. Theo het beddings aangelê en verskeie aalwyne, kaktusse en blomme geplant.

LEES OOK: How Cape Town communities are growing their own futures

Transformasie

Vandag pronk die tuin met ‘n indrukwekkende verskeidenheid vrugtebome en plante, waaronder ‘n perske-, koejawel-, olyf-, appel-, granaat-, suurlemoen-, lemoen-, avokadopeerboom, proteas, grenadellaplante en talle ander soorte.

Die tuin het vinnig getransformeer.
Die tuin het vinnig getransformeer.

Sy toewyding het mettertyd die Stad Kaapstad se parkedepartement se aandag getrek. Toe ‘n verteenwoordiger die tuin besoek en gevra het wie verantwoordelik is vir die werk, was Dippenaar se antwoord eenvoudig: “Ek.”

Vandag speel die klein kindertjies saans daar; dit is vir my die mooiste deel van alles.

Ná ‘n kort gesprek oor wat nog benodig word, is ‘n vrag kompos afgelewer om die tuin verder te versorg. Maar dit is nie pryse of erkenning wat Dippenaar die meeste bybly nie.

“Vandag speel die klein kindertjies saans daar; dit is vir my die mooiste deel van alles,” sê hy.

“Die grond behoort aan die munisipaliteit, maar dit is duidelik dat dit deur een man se hande, visie en liefde vir sy gemeenskap in iets besonders omgeskep is — ‘n lewende bewys dat ‘n enkele mens wel ‘n verskil kan maak.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article