Nadat hy met lewerkanker gediagnoseer is, het die kunstenaar Theo Kleynhans besluit om die lewe met kuns en ’n uitstalling getiteld “You think you’ve got time” op Saterdag 29 Augustus te vier.

Die uitstalling begin om 14:00 by die Art B Gallery in die biblioteeksentrum in Carel van Aswegenstraat, Bellville. Dit duur tot Woensdag 2 September.
“Soos meeste van die mense na aan my reeds weet, is ek in Julie met lewerkanker gediagnoseer,” sê Theo. “Ongelukkig is daar volgens die mediese span geen behandeling wat enige betekenisvolle verandering sal maak nie en die prognose is dat ek heel moontlik nie 2027 sal sien nie,” sê hy.
Viering van lewe
“Dit is natuurlik ’n realiteit wat ek nooit gedink het ek in die gesig sou moes staar nie, maar dit het my ook laat besef hoe waardevol die mense, vriendskappe en ondervindings in my lewe was, asook my eie kreatiewe reis,” sê hy.

“Daarom het ek besluit om op 29 Augustus nie net ’n uitstalling by Art B Gallery in Bellville te hou nie, maar dit ook ’n viering van die lewe en kuns te maak, en die mense wat my lewe oor die jare verryk het,” sê hy.
Kunswerke geskenk
Altesame 68 kunstenaars het werk vir die uitstalling geskenk — ’n teken van die impak wat Theo op soveel se loopbane en lewens gemaak het.

Die kunstenaars sluit Diane Victor, Hanneke Benade, Henk Serfontein, Sandra Hanekom, Paul Birchill, Marieke Kleynscheldt, Juria le Roux, Judy Woodbourne, Hennie Meyer, Barbara Wildenboer, Theo Paul Vorster, Chris Koch, Cobus van Bosch, Pauline Gutter, Alex Hamilton, Gretchen Crotz, Diek Grobler, Marie Stander, Marinda du Toit en Stephan Rosin in.
Al die werk op die uitstalling sal te koop wees en die fondse sal vir Theo se palliatiewe versorging gaan. Die uitstalling en logistiek, asook die bestuur van die fondse, word deur sy goeie vriende Janine Vorster en Chris Koch behartig.
Enorme bydrae
Kleynhans se bydrae tot die kunstelandskap in Suid-Afrika is enorm, lui ‘n mediaverklaring. Hy is ’n meesterkunstenaar wat met kwas én klei kan tower. Hy is ’n kurator sonder weerga, wat veral op nasionale kunstefeeste sy merk gemaak het. Dan is hy op die koop toe ’n dramaturg, resensent en mentor vir menige – nie net vir kunstenaars nie, maar almal wat leiding en wysheid in die lewe nodig het, lui die skrywe.

Nuwe werk
Daar is ook nuwe en bestaande werk deur Kleynhans self, wat vir die eerste keer op ’n uitstalling in Suid-Afrika te sien sal wees. Van die werk is gemaak tydens sy verblyf in Spanje en ander is nuwe werk wat ná sy diagnose gemaak is. Daar sal ook ’n loting van een van Kleynhans se eie werke wees.
Katalogus
Aanlyn verkope is moontlik vir diegene wat nie Saterdag die uitstalling in persoon kan bywoon nie.
Die katalogus vir die uitstalling sal gestuur word na diegene wat vanaf 14:30 die woord “katalogus” per WhatsApp na 082 463 5257 stuur.
Indien die werk nog beskikbaar is, kan betaling gemaak word en nadat ’n bewys van betaling ontvang is, sal die werk as verkoop aangedui word. Art B kan die werk landwyd per koerier aanstuur.
- Kontak Ilza Roggeband by ilza@mweb.co.za met navrae.
LEES OOK: Theo Paul Vorster celebrates 20 years of linocut printing with exhibition






You must be logged in to post a comment.