Radio Tygerberg
Die Corvette in die miniatuur- Radio Tygerberg-motorhuis wat Corné Boshoff onlangs gemaak en tydens hul Pledge-week aan die radiostasie geskenk het.

Miniatuur-modelspeelgoed Goodwood-inwoner se passie

Radio Tygerberg
Die Corvette in die miniatuur- Radio Tygerberg-motorhuis wat Corné Boshoff onlangs gemaak en tydens hul Pledge-week aan die radiostasie geskenk het.

Sy liefde vir miniatuur-modelspeelgoed is iets wat van kindsbeen reeds by Corné Boshoff vatplek gekry het. Boshoff het onlangs een van sy miniatuur-motorhuisies aan Radio Tygerberg 104FM in Parow geskenk — een wat met plakkate en in die kleure van dié radiostasie versier is.

Hy het verlede week aan TygerBurger verduidelik waar sy liefde vir miniatuur-modelle begin het.

“Ek het ‘n liefde vir ou karre, wat ek seker maar by my pa geërf het. Toe ons kinders was, het hy altyd ou agt-silinder-karre gery. Ons het nog altyd ‘n liefde gehad vir ou karre, veral agtsilinders.

“Soos ons ouer geword het, het my pa van sy ouer karre ontslae geraak en ‘n bietjie meer moderne goed begin koop, maar ek het steeds ‘n liefde gehad vir die ou karre,” sê hy.

Maar vanwaar die liefde vir die ontwerp en bou van miniatuur-modelle?

“Ek het eintlik begin deur klein modelle te bou, dis 1:24-skaalmodelkarre en kom in klein boksies, is kleurloos en is van plastiek gemaak. So het die stokperdjie maar begin. Jy bou die enjin, jy kies self watter kleur jy die kar wil hê, watter wiele jy daaraan wil hê. Dit was baie lekker om die karre te bou.”

Hy verduidelik verder dat hy die stokperdjie later baie ernstig begin opneem het.

Die motorhuisies wat hy bou, vertel hy, het begin toe hy besef het dat daar geen “parkeerplek” vir al sy karretjies is nie, en nêrens ‘n plek is om dit uit te stal nie. “Ek het begin om my eerste motorhuisie te bou.”

Radio Tygerberg
Een van die miniatuur-motorhuisies by Corné Boshoff se huis.

Radio Tygerberg

Corné en sy vrou, Melanie, het Radio Tygerberg tydens hul Pledge-week onlangs besoek waar hulle ‘n miniatuur- Radio Tygerberg-motorhuis aan die radiostasie geskenk het. Die motorhuis is ontwerp en volledig met kleurvolle plakkate, ‘n geel Corvette en werkstasie toegerus. Daar is selfs ‘n klein brandblusser.

“Die radiostasie se motorhuis het ‘n tema rondom die radiostasie.” Hy het ook probeer om dit persoonlik te maak deur dit met foto’s van hul ou karre te versier.

“Ek het nog my heel eerste motorhuisie wat ek vir myself gebou het.”

Sy broer en suster is ook lief vir ou karre, sê hy. Sover het hy vir talle van sy familielede ook model- motorhuisies gebou, insluitend vir sy suster se miniatuur Ford Mustang.

“Ek het nog nooit daaraan gedink om dit vir ander mense te doen nie, dit was maar nog altyd net in die familie. Die Here het dit op my gesit dat ek vir die radiosataie ook een moet bou.”

Corné sê hy was nog altyd handvaardig en kan nog altyd enjins bou.

“My pa het ná sy aftrede weer twee ou bakkies gekry. Ek bou ook sy enjins en herstel dit.”

LEES OOK: Radio Tygerberg ontvang vyf nominasies vir radio-toekennings

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article