Jessie was verlede jaar ook in die SA rugby o.18-meisiespan wat teen Nederland gespeel het.
Jessie was verlede jaar ook in die SA rugby o.18-meisiespan wat teen Nederland gespeel het.

Leerder van DF Akademie vertel moedig oor haar groot wen


Daar is oomblikke in ‘n mens se lewe wat jou vir altyd verander. Vir Jessie Schoeman was so ‘n oomblik die aand toe haar naam as Mej. DF Akademie aangekondig is — ‘n titel wat sy nie net met trots gedra het nie, maar met ‘n boodskap wat heelwat verder strek as enige kroon.

“Die eerste gevoel wat oor my gespoel het, was skok. Die beste soort skok,” sê Jessie met ‘n glimlag. “Ek het dit glad nie verwag nie — daar was so baie wonderlike meisies wat ook kon gewen het.”

Maar toe die werklikheid uiteindelik insink, was dit nie trots wat sy eerste gevoel het nie. Dit was dankbaarheid. Dankbaarheid teenoor haar ouers wat in die eerste ry gesit het, teenoor almal wat haar gemotiveer het, en bo alles, teenoor haar geloof. “Vir die Here wat my gelei het na daardie oomblik. Dit was ‘n ongelooflike oomblik wat ek vir altyd sal onthou.”

Jessie is nie net Mej. DF Akademie nie — sy is die eerste lesbiese wenner in die kompetisie se geskiedenis, en ook die eerste vrouerugbyspeler wat die titel verower. Twee historiese mylpale op een aand.

Jessie Schoeman is as Mej. DF Akademie 2026 gekroon.
Jessie Schoeman is as Mej. DF Akademie 2026 gekroon.

Tog was die pad na die verhoog nie sonder twyfel nie. “Toe ek eers begin uitpluis het wie ek is, het ek nie gedink ek mag trots wees op hierdie deel van myself nie,” erken sy eerlik. “En ek wil nie hê dat enige kind ooit so moet voel nie.”

Vir Jessie is haar oorwinning meer as ‘n persoonlike prestasie — dit is ‘n boodskap aan elke jong meisie of seun wat voel hulle moet wegsteek wie hulle werklik is. “Vir hulle om te sien hoe ‘n lesbiese meisie op ‘n verhoog staan en trots haarself is voor honderde mense, en nog boonop Mej. DF wen — dit kan baie beteken, en hulle hopelik inspireer om trots te wees op wie hulle is.”

Rugby in die bloed

Lank voor die verhoog en die kroon was Jessie Schoeman reeds besig om geskiedenis te maak — hierdie keer op die rugbyveld. Sy was lid van Suid-Afrika se eerste o.18-meisiesrugbyspan wat in Desember verlede jaar twee toetswedstryde teen Nederland gespeel het.

“Om uit te draf vir Suid-Afrika vir die eerste keer was een van die ongelooflikste oomblikke van my lewe,” sê sy. “Rugby is my grootste passie, en as meisie is dit nie altyd maklik in die rugbywêreld nie.” Die Nederlandse span het hulle deeglik laat sweet — “Dit was van die moeilikste wedstryde wat ek nog ooit gespeel het” — maar die ervaring het haar as speler onmeetbaar laat groei. “Ek dra die wysheid van my SA afrigters en die liefde vir my SA spanmaats saam met my elke dag.”

LEES OOK: Bellville-meisie skitter op wêreldverhoog

Wat hierdie span se prestasie egter nog betekenisvoller maak, is sy nalatenskap. “Om die eerste SA o.18- meisiesspan te wees, was nie net vir ons belangrik nie — dit was die begin van ‘n beter en makliker pad vir die meisies ná ons.”

Hakke én beserings — en trots op albei

Toe Jessie vir Mej. DF inskryf, het meer as een wenkbrou gelug. “‘n Rowwe rugbyspeler wat op ‘n verhoog in hakke wil loop?” lag sy. Maar dit is juis die punt wat sy wou maak. “Ek dink dit het vir so baie mense gewys dat jy nie jouself hoef te definieer deur een aspek van jou lewe nie. Dat Mej. DF nie slegs een manier moet lyk nie.”

Vir Jessie was dit 'n persoonlike oorwinning om vroulikheid en krag gelyktydig uit te beeld.
Vir Jessie was dit ‘n persoonlike oorwinning om vroulikheid en krag gelyktydig uit te beeld.

Vir Jessie was dit ‘n persoonlike oorwinning om vroulikheid en krag gelyktydig uit te beeld. “Ja, ek is ‘n rugbyspeler en ek is so trots daarop, maar ek kan ook my vroulikheid uitleef. Dit was vir my so wonderlik om vroulik wees en sterk wees saam uit te beeld.”

Geloof, identiteit en ‘n lang pad

Min onderwerpe is so naby aan Jessie se hart as haar verhouding met God — en die lang, soms pynlike reis om haar geloof en haar identiteit te versoen. “Mense het my geoordeel, afgesny en probeer oortuig dat daar iets fout is met my,” sê sy. “Maar deur te ignoreer wat dié mense sê en my eie pad met die Here te loop, kon ek by die antwoord uitkom dat die Here my so geskape het.”

Haar boodskap is eenvoudig maar kragtig: “Ons God is ‘n God van liefde. Mense mag dalk nie dieselfde dink nie. Ons sal altyd bestaan, en ons is geliefd deur die Here.”

Sy streef daarna om God die middelpunt van elke aspek van haar lewe te maak — van die rugbyveld tot die verhoog. “Ek is, soos enige mens, nie ‘n perfekte Christen nie. Maar my doel is om te lewe vir die Here en sy doel vir my op aarde so goed as wat ek kan uit te voer.”

Die rots agter die kroon

Agter elke prestasie staan mense wat glo. Vir Jessie is dit haar gesin en vriende. “My gesin is my rots. Hulle aanvaar my nes ek is en ondersteun my in elke aspek van my lewe.” Of dit nou langs die rugbyveld is of in die eerste ry by Mej. DF — hulle is daar. “Ek sou nooit enige van hierdie prestasies sonder hul hulp, motivering en ondersteuning kon bereik nie.”

LEES OOK: Bellville schoolgirl makes history as SA names first ever u-18 girls rugby squad

As Jessie Schoeman een ding wil hê wat mense van haar onthou, is dit nie die trofeë of die titels nie. “Ek wil hê dat wanneer mense my naam hoor, hulle iemand onthou wat die Heilige Gees se liefde en aanvaarding uitgestraal het.”

Aan elkeen wat aan hul eie waarde twyfel, het sy hierdie boodskap: “Ek was jy — onseker, bang en skaam oor wie ek werklik is. Maar wat ek besef het, is dat die Here ons slegs een lewe gegee het. ‘n Lewe wat te kort is om nie jouself trots uit te leef nie.”

Haar droom? “Ek wil die rede wees hoekom ten minste een persoon in hierdie wêreld besef dat wie hulle is, is presies wie God wil hê hulle moet wees.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article