Die Laerskool Mikro se splinternuwe astrohokkieveld is Donderdag (8 Oktober) amptelik ingewy.
Louis Mouton, skoolhoof, het vertel dat die astroveld die gevolg van drie dinge is. Eerstens het dit waagmoed geverg om so ‘n groot en duur projek aan te pak, oor kort- en langtermyn, het hy gesê. Tweedens moes kreatiewe planne gemaak word wat die veld se ligging betref waaroor menings verskil het. Derdens het dit die visie geverg wat die beheerliggaam gehad het om dit te laat realiseer.
Buiten dat die astroveld tot verbeterde hokkievaardighede sal bydra, is dit ook belangrik vir die skool se beeld, het Mouton uitgelig. Die veld, sigbaar vanaf die straat en naby die skool se hoofingang, is volgens Mouton presies op die regte plek sodat mense dit kan sien as hulle verbyry of by die skoolhek instap.
“Albert Einstein het gesê, ‘opportunities don’t happen, you create them’. Dankie aan almal wat ‘n aandeel gehad het, ons het hier ‘n geleentheid geskep vir die kinders van die skool. Daarvoor sê ek dankie, dit was ‘n spanpoging waarop ons baie trots kan wees.”
Stephanie Botha, Protea-hokkiespeler, het ‘n inspirerende boodskap vir die skool se o.13-hokkiespelers gehad wat kruisbeen op die astro gesit het.
Botha het vertel sy is sedert haar matriekjaar jaarliks na die Protea-oefenkamp genooi, maar het eers ná ses jaar die span gehaal. Teen die derde jaar wou sy tou opgooi, maar die mense na aan haar het haar telkens aangemoedig om aan te hou. “Die mense naaste aan jou is die belangrikste; moet nooit jou droom opgee nie – dit mag dalk ‘n paar maande vat of dit mag dalk ses jaar vat.”
Sy het Mouton met die knip van die lint bygestaan waarna die o.13-meisies en seuns, in spanne van vyf spelers elk, mekaar die stryd in mini-wedstryde op die nuwe veld aangesê het.


















Hokkie by Mikro
Ná afloop van die wedstryde het gaste en die personeel ‘n langtafel-ete in die skoolsaal geniet.
Annerie Spreeth, adjunkhoof, wat reeds twee dekades by Mikro is, het gesê sy is amptelik die oudste ma wat die hokkie-pad by Mikro saamgestap het. Haar seun was in 2006 in graad R toe daar pas met hokkie by Mikro begin is. Ds. Hennie du Pisanie, leraar by die NG kerk Kuilsrivier-Suid, was toe die hokkieafrigter.
Spreeth het vertel hoe Du Pisanie die skool op “die hokkie-map” gesit het toe die o.13-span in 2013 (waarvan sommiges in 2006 in gr. R begin het) die silwermedalje by die provinsiale top-skoletoernooi gewen het.
Hoewel die skool deur die jare verskeie WP- en sonespelers opgelewer het, was daar uitdagings. “As jy in die premierliga wil bly dan moet jy op astro speel.” Soms moes daar na astrovelde gesoek word om op te oefen en kinders moes met bussies rondgery word. “Dankie aan die afrigters vir die laat aande en opofferings.”
Spreeth het gesê die bou van die astroveld was ‘n groot besluit wat baie uitdagings ingehou het en ook vorentoe sal inhou. “Die astro is wel vir hokkie, maar dit skep ook ‘n multisport fasiliteit wat ‘n aanwins vir die skool is. Ek glo hierdeur gaan ons goeie, talentvolle leerders lok en steeds goeie afrigters.”
Sy het die astro-komitee en almal wat tot die projek bygedra het vir hul harde werk bedank.
Verloop van projek
Die skoolbeheerliggaam het einde verlede jaar besluit om die astroveld te bou en ‘n astro-komitee aangewys om die projek te bestuur. “Mikro se eerste hokkiespanne speel al vir baie jare in die premierliga en dit het toenemend moeilik geraak om dit vol te hou sonder ons eie astro,” het Mouton gesê.
Ouers en donateurs kon deur middel van ‘n aanlyn platform tot die projek bydra. Konstruksie het in April begin.
“Skenkers kon ook boumateriaal skenk, wat die prys meer bekostigbaar vir die skool gemaak het,” het Mouton gesê. “Paviljoene en spreiligte word vir die toekoms beplan.”
Maatskappye wat belangstel om op die advertensieborde rondom die astro te adverteer kan Armandt Nortjé by sport@laerskoolmikro.co.za kontak.
LEES OOK: FOTO’S: Laerskool Mikro Elto Towers-sportdag in Kuilsrivier










You must be logged in to post a comment.