Amper 40 kinders vanuit die omliggende Kuilsrivier-gemeenskap en plase het verlede Saterdag (24 Oktober) ‘n opwindende uitstappie na die DHL Kaapstad-stadion geniet om na die Stormers teen die Scarlets te gaan kyk.
Adriaan en Louise Erasmus van Riverside Gardens het die uitstappie in samewerking met Bradley Lackay van die Stad Kaapstad se opleidingskollege vir openbare veiligheid gereël wat die vervoer verskaf het.

Onder die groep was onder meer leerders van die Hoërskool Brantwood en die laerskole Kuilsrivier, Sarepta en Highbury.
Opgewonde
Hungry Lion Zevenwacht het vir elkeen ‘n maaltyd voorsien en Sharon Devine water. Food Lover’s Market River Quarter het vrugte verskaf en vir elke kind ‘n keppie gegee.
“Die doel van die uitstappie is om die kinders uit hul gemeenskappe te bring en ‘n ander uitkyk op die lewe te gee, om te wys dat daar ander alternatiewe as dwelms en bendes is,” sê Erasmus.
“Die outjies was baie opgewonde. Hulle het dit geniet en wil graag weer gaan. Vir baie was dit ‘n belewenis om die stadion en die spelers in lewende lywe te sien.”

Erasmus sê hulle is dankbaar vir ondersteuning van die Stormers-rugbyunie wat die kaartjies gegee het en almal wat gehelp het om die dag ‘n sukses te maak.
“Toesighouers het gesorg dat almal veilig is, genoeg eet en dat niemand afdwaal of verlore raak nie.”
LEES OOK: Finally, Irista Primary in Sarepta, Kuils River has its own hall











You must be logged in to post a comment.