Alta du Toitskool se nuwe wiele: Spesiale geskenk vir ‘n spesiale skool

Nuwe minibus vir Alta du Toitskool
Die Stad Kaapstad het die minibus aan die skool geskenk.

Alta du Toitskool se nuwe wiele: Spesiale geskenk vir ‘n spesiale skool


Die Alta du Toit-skool in Kuilsrivier het verlede week ‘n splinternuwe minibus van die Stad Kaapstad in ontvangs geneem.

Nuwe minibus vir Alta du Toitskool
Van links is Bronwyn Fisher (skakelbeampte van die burgemeester se kantoor), Wouter de Vos (wyksraadslid), Marius Erasmus (skoolhoof), Rubert Mansfield (Rola Toyota Somerset-Wes) en Johannes van der Merwe (subraadvoorsitter) by die oorhandiging van die bussie. Foto: Carina Roux

Marius Erasmus, die skoolhoof, ­het met­ die oorhandiging ‘n prentjie geskets van die skool vir intellektueel gestremde leerders se uitdagings, maar ook insig gegee in hul werksaamhede en inisiatiewe soos ‘n herwinningsprojek, ‘n werkskadu-program en die skool se gewilde marimba-orkes.

Die groep leerders in die marimba-klas het vir die besoekers hul vernuf gewys. Video: Carina Roux

Groot geskenk

Die skool se busse ry elke weeksdag 1 275 km om leerders op te laai en die voertuie moet gereeld vervang word wanneer dit vir permitdoeleindes te veel kilometers afgelê het. “Ons brandstofrekening is ongeveer R80 000 per maand,” het Erasmus gesê. Soos ander spesiale skole kry die skool ‘n jaarlikse subsidie, maar dit skiet ver te kort. Die skool moet dus jaarliks miljoene self insamel om hul begroting te laat klop.

“Hierdie geskenk is amper R1 miljoen werd. Ons het ‘n busplan en het vir een bussie begroot, maar nou kan ons nog een koop, wat ons eers eintlik volgende jaar sou vervang. Baie dankie, dit is werklik ‘n groot geskenk.”

Sagte plekkie

Wouter de Vos, wyksraadslid, het gesê dit is geen geheim dat hy ‘n sagte plekkie vir die Alta du Toit-skool het nie. “Dit was regtig vir my ‘n vooreg om ‘n motivering vir hierdie skenking te skryf en só iets kleins te doen.”

De Vos het gesê hy het maar vir die beste gehoop en is baie bly dat die versoek aan die burgemeester se kantoor suksesvol was. “ ’n Mens moet maar kyk waar jou inset die grootste verskil sal maak en hier word in ‘n daadwerklike nood voorsien.

“Die werk wat julle hier met die kinders doen om hulle lewensvaardighede te leer sodat hulle hul plek so ver as moontlik in die samelewing kan vol staan, is van onskatbare waarde.”

Die bussie is deur Rola Toyota Somerset-Wes verskaf, wat ook ‘n verlengde dienskontrak bied.

Kom stap of draf saam

Die skool se jaarlikse Iamable-pretloop vind op Saterdag 19 September plaas. Inskrywings vir die 2,5- of 5 km-pretloop kos R100.

Die tema is “Blue Is The New Cool” – trek blou aan om jou ondersteuning vir gestremdes te wys en jy kan dalk ‘n prys wen. Registrasie vind van 07:00 tot 08:00 plaas. Om 08:15 word ‘n oorsig gegee en die wegspring is 08:30. Jy kan ook virtueel deelneem. Skryf in by Entry Ninja en help om die skool te ondersteun.

LEES OOK: Projek by Alta du Toitskool help om werksgaping vir gestremdes te oorbrug

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article