‘Hemelse’ bessiekonfyt die beste by SA Preserveerkampioenskappe

Kategoriewenners
Kategorie-wenners by die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe. Foto: Agri-Expo/A Gorman Photography

‘Hemelse’ bessiekonfyt die beste by SA Preserveerkampioenskappe

Kategoriewenners
Kategorie-wenners by die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe. Foto: Agri-Expo/A Gorman Photography

‘n Handgemaakte organiese bessiekonfyt het die eerste plek behaal uit 700 inskrywings van 85 vervaardigers by die tweede jaarlikse Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe, aangebied deur Agri-Expo, Suid-Afrika se oudste landbougenootskap.

Hemelhuijs se Hedgerow Berry Jam is Donderdag 27 Augustus by Eensgezind in Durbanville as die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerproduk van die Jaar aangewys.

SA Preserveerproduk van die Jaar
SA Preserveerproduk van die Jaar: Hemelhuijs Hedgerow Berry Jam.
Foto: Hennie van Loggerenberg/OCTA 5.

‘n Paneel van 61 beoordelaars het die inskrywings tydens ‘n streng blindeproe-proses beoordeel. Altesaam 113 produkte van 43 vervaardigers is as Suid-Afrikaanse kampioene in hul onderskeie klasse aangewys, met 13 kategoriewenners wat as die beste in hulle onderskeie kategorieë uitgestaan het (sien die volledige lys onderaan).

“Om in ‘n kompetisie van hierdie kaliber as die nasionale Produk van die Jaar aangewys te word, is ‘n besondere prestasie, veral in ‘n mark waar verbruikers ‘n wye verskeidenheid gehalteprodukte het om van te kies,” sê hoofbeoordelaar Susina Jooste, voedselkenner en opleidingspesialis.

“Hemelhuijs Hedgerow Berry Jam is op elke sensoriese vlak uitsonderlik – van sy voorkoms en kleur tot sy diep rooi bessiesmaak en -geure, afgeronde mondgevoel, ideale verhouding tussen stroop en vrugte, en goed gebalanseerde soet-suurprofiel. Dit is ook ‘n veelsydige produk wat as tradisionele konfyt geniet kan word of gebruik kan word om vleisgeregte en souse te verryk.”

Hemelhuijs se tradisie en vakmanskap

Hemelhuijs, wat in 2009 gestig is, is ‘n koffiewinkel in Kaapstad se middestad waar Suid-Afrikaanse erfenis met internasionale kulinêre invloede vermeng word. Vir sjefeienaar Jacques Erasmus is die nasionale toekenning ‘n belangrike mylpaal vir die span.

“Ons ingelegde produkte word van organiese vrugte gemaak wat sorgvuldig op ons Jonkmanshof-plaas in Montagu gepluk word, waar ons seisoenale vrugte verbou en produseer as deel van ons verbintenis tot volhoubaarheid,” sê hy. “Deur produkte direk van die plaas te verkry, verseker ons die varsste bestanddele en versterk ons terselfdertyd ons toewyding aan ‘n volhoubare leefwyse.”

“Elke fles bevat ‘n stukkie van ons verhaal – gemaak volgens familieresepte, sonder bymiddels of kunsmatige geure. Dit word in klein hoeveelhede en met tradisionele koperkonfytpanne met die hand vervaardig, terwyl ons op enkelkultivar-preserveerprodukte fokus om die unieke karakter van elke vrug na vore te bring.”

“Dit is nie bloot bottels konfyt nie, maar flesse vol herinneringe en tradisie – ‘n huldeblyk aan die grond, die vrugte en die vakmanskap wat dit alles bymekaarbring. Ons droom, ons kook en ons eet goed.”

SA Preserveerkampioemskappe
Van links is Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe; Jo-Mari Erasmus van Hemelhuijs, wenner van die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerproduk van die Jaar; en Chris Fourie, President van Agri-Expo, tydens die toekenningsgeleentheid van die tweede jaarlikse Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe by Eensgezind in Durbanville. Foto: Agri-Expo/A Gorman Photography

‘n Platform vir preserveerprodukte

Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kampioenskappe, is die kompetisie in 2025 van stapel gestuur om die kuns van preserveerwerk in die kollig te plaas, erkenning aan produkte van uitstaande gehalte te gee en tot ekonomiese ontwikkeling by te dra.

“Die beduidende toename in inskrywings toon duidelik dat daar ‘n behoefte in die bedryf aan hierdie soort platform is,” sê Milford. “Die uitslae beklemtoon ‘n innoverende sektor en gesonde mededinging – van gevestigde handelsmerke tot kleiner en opkomende produsente. Baie geluk aan al die wenners.”

Milford het die goue vennote, The Consol Shop – an Ardagh Glass Packaging Company, ClemenGold en Hollard, bronsvennoot EcoWise asook SA Olive, vir hul ondersteuning bedank. “Hierdie projek sou nie moontlik gewees het sonder sterk ondersteuning van ons bedryfsvennote nie,” sê hy.

Dertien kategoriewenners

Die volgende produkte is as kategoriewenners aangewys, in alfabetiese volgorde:

  • Atjar: Miami Mango Atchar in Vegetable Oil Garlic
  • Blatjang: Peppadew International Woolworths Dhania Chutney
  • Smeer: Lessing Konfyte & Bakkery Passionfruit Curd
  • Vrugte in stroop: Elana’s Preserves Peach Halves in Syrup
  • Konfyt: Hemelhuijs Hedgerow Berry Jam – Suid-Afrikaanse Preserveerproduk van die Jaar
  • Jellies: PITTIG Sweet Chilli Jelly
  • Marmelade: Hemelhuijs Kumquat Conserve
  • Olywe: Darling Olives Marinated Olives
  • Pesto: Pesto Princess Basil & Chilli Pesto
  • Gepekelde vrugte: Lessing Konfyte & Bakkery Curry Peaches
  • Gepekelde groente: Miami Sweet & Tangy Cherry Peppers
  • Smoor: Creative Cuisine Pantry Tomato & Onion Relish
  • Groente in sous: Ko-Ria Products Three Bean Salad

Besoek preservechamps.co.za vir die volledige uitslae.

LEES OOK: Nampo Kaap se vroueprogram bied vanjaar meer ruimte

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article