Nampo Kaap wat in September in Bredasdorp plaasvind bied ‘n vroueprogram met die tema “Waar boere, kos en gemeenskap saam groei” aan. Die program oor drie dae, van 9 tot 11 September, vind in die groot Santam-tent voor die BKB-gebou plaas.
Beneschke Janse van Rensburg is die seremoniemeester en hoewel die program op vroue gerig is, is mans ook welkom.
Die program bied gesprekke, leefstyl-inhoud, countrymusiek, geloofsversterking en verhale van veerkragtigheid. Vanjaar se groter tent bied meer ruimte, met ‘n groot skerm buite die tent sodat besoekers steeds deel van die ervaring kan wees.

Program
Woensdag 9 September: opening deur Beneschke Janse van Rensburg, gevolg deur ‘n gesprek met Sumarie Jordaan oor hoe om sienings te verander. Die oggendprogram gaan voort met countryklanke deur Chris Else en sluit af met Mel die Storieverteller, “Vrouwees en ander dramatiese gebeure met Damien Beer”.
Donderdag 10 September: Lynette Beer met “Saad van inspirasie” en Dawid Botha met “Seekos op die plaas” en ‘n optrede deur Brendan Peyper.
Vrydag 11 September: Van Rensburg in gesprek met Koben Hofmeyr oor “Ek stap weer”, gevolg deur musiek van Franna Benade en Willem Botha se “Maak jou mooi dis naweek”.

Meer as net uitstallings
Burre Burger, die organiseerder van die vroueprogram, sê: “Nampo Kaap gaan oor meer as uitstallings en innovasie; dit gaan ook oor die mense wat landbou, koskultuur en gemeenskapslewe vorentoe dra. Hierdie program bring daardie verhale op ‘n opbouende en toeganklike manier na die verhoog.”
Volgens Burger is die program saamgestel om ‘n ruimte vir vroue te skep waar besoekers kan stilstaan, luister, lag, leer en skakel. Die groter tent en buiteskerm is daarop gemik om die groeiende belangstelling in die program te akkommodeer.
Besoekersinligting
Kaartjies vir Nampo Kaap 2026 is beskikbaar op www.opentickets.co.za. Kaartjies is nie dagspesifiek nie en kan op enige van die vier dae gebruik word.
Kaartjies vir volwassenes kos R110 (aanlyn) en R120 (by die hek). Kaartjies vir kinders kos R60 en is slegs by die hek beskikbaar.
Gratis toegang vir voorskoolse kinders
Ekspo-ure:
9 tot 11 September: 08:00 tot 17:00
12 September: 08:00 tot 14:00
Vir verblyf: Kontak Cape Agulhas Toerisme by 028 424 2584 of 082 896 2225 of besoek www.overberg-info.co.za
LEES OOK: Kom leer meer oor beskermde landbou by Nampo Kaap in September




You must be logged in to post a comment.