Spekboomkonfyt onder 700 inskrywings in SA Preserveerkampioenskap

Die televisiepersoonlikheid en sjef Yolani Abrahams was een van die beoordelaars.
Die televisiepersoonlikheid en sjef Yolani Abrahams was een van die beoordelaars.

Spekboomkonfyt onder 700 inskrywings in SA Preserveerkampioenskap


‘n Rekordgetal van 700 gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte is gister (Woensdag 29 Julie) in die tweede Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskap beoordeel — van perskesnippers tot spekboomblatjang!

Die kampioenskap is deur Agri-Expo by Eensgezind buite Durbanville aangebied. Altesame 85 vervaardigers het hul produkte ingeskryf.

Die beoordelaars Foto:  A Gorman Photography
Van links is Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, saam met die beoordelaars Marietjie van Jaarsveld, ministeriële kantoorhoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, Charlene Nieuwoudt, kommunikasiebestuurder van ClemenGold, en Wendy Petersen, uitvoerende hoof van SA Olive. Foto: A Gorman Photography

Vanjaar is die inskrywings deur ‘n paneel van 61 beoordelaars in meer as 100 klasse beoordeel. Dit sluit in konfyte, marmelades, blatjang en piekels tot pesto’s, olywe en ander vernuwende skeppings.

Bewys van vertroue

“Die rekordgetal inskrywings is ‘n bewys van die vertroue wat produsente in hierdie kompetisie het,” sê Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo.

“Ons is besonder trots op die beduidende toename op verlede jaar se 456 inskrywings. Die groei bevestig dat die kampioenskap ‘n waardevolle platform bied vir sowel gevestigde as opkomende vervaardigers om hul produkte teen die hoogste standaarde te laat beoordeel, terwyl dit ook verbruikersvertroue in Suid-Afrikaanse preserveerprodukte versterk.”

Die televisiepersoonlikheid en resepteboekskrywer Carmen Niehaus was 'n beoordelaar.
Die televisiepersoonlikheid en resepteboekskrywer Carmen Niehaus was ‘n beoordelaar.

Agri-Expo, wat vanjaar sy 195ste bestaansjaar as landbougenootskap vier, het die kampioenskap in 2025 gevestig om uitsonderlike gehalte te erken, entrepreneurs te ondersteun en die kuns van voedselpreservering te bevorder.

Kundigheid van beoordelaars

Volgens Chris Fourie, president van Agri-Expo, lê die sukses van die kampioenskap nie net in die groot aantal inskrywings nie, maar ook in die gehalte en integriteit van die beoordelingsproses.

Anika van der Mescht, hoof van voedselontwikkeling by Shoprite Checkers
Anika van der Mescht, hoof van voedselontwikkeling by Shoprite Checkers en ‘n beoordelaar by die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe

“Die kundigheid van ons beoordelaars gee geloofwaardigheid aan hierdie kampioenskap. Met vyf beoordelaars per produk kan vervaardigers vertroue hê dat elke produk billik, onafhanklik en konsekwent beoordeel word.”

Blinde proeproses

Produkte is deur middel van ‘n blinde proeproses beoordeel deur ‘n uiteenlopende paneel van kundiges uit die kos-, gasvryheids-, kleinhandel- en landbousektor.

'n Paneel het die inskrywings beoordeel.
n Paneel van 61 kenners het 700 inskrywings van 85 vervaardigers beoordeel tydens die 2026 Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe wat op 29 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind het. Foto: A Gorman Photography

Die paneel is beïndruk met die uitsonderlike gehalte van sowel tradisionele, outentieke produkte as vernuwende skeppings wat verrassende geurkombinasies en hedendaagse leefstyltendense weerspieël.

Ouma se kombuis

“Wat my die meeste beïndruk, is dat die tradisionele, outentieke produkte op presies dieselfde hoë vlak meeding as die vernuwende produkte,” sê die hoofbeoordelaar, Susina Jooste, ‘n bekende koskenner en opleidingspesialis.

“Ons sien produkte wat jou aan jou ouma se kombuis herinner – ‘n beoordelaar het selfs vertel hoe perskesnippers trane in haar oë gebring het, maar ook waagmoedige nuwe skeppings wat vars denke weerspieël, soos groen olywe gevul met kasjoeneute, gedroogde gesoute olywe, spekboomblatjang en ingelegde jalapeños in ‘n soet stroop.”

Volgens Jooste bevestig die inskrywings dat daar ruimte in die mark is vir sowel die bekende smake van vroeër as nuwe, avontuurlustige geurkombinasies.

Vertel verhaal van mense

“Preserveerprodukte is soveel meer as net produkte op ‘n rak. Hulle vertel die verhaal van mense,” sê Fourie.

“Vir sommige het die maak van preserveerprodukte uit nood ontstaan om ‘n inkomste te verdien. Vir ander was dit ‘n manier om waarde tot vars produkte toe te voeg of ‘n passie in ‘n suksesvolle onderneming te omskep. Oor geslagte heen het verskillende gemeenskappe hul eie resepte, geure en tradisies bygedra. Vandag vier ons daardie ryk kos-erfenis, maar ook die produsente en vervaardigers wat aanhou innoveer en streef na uitnemendheid.”

Hoofbeoordelaar Susina Jooste tydens die beoordelings. Foto: Isabeau Joubert Botha
Die hoofbeoordelaar Susina Jooste tydens die beoordelings. Foto: Isabeau Joubert Botha

Volgens Fourie sal dit nie moontlik wees om die kampioenskap aan te bied sonder die ondersteuning van die wyer landboubedryf nie.

“Ons bedank graag ons vennote ClemenGold, Ardagh Glass Packaging–Africa, Hollard, Ecowize en SA Olive.”

Die wenners word op 27 Augustus by Eensgezind aangekondig.

. Besoek www.sapreservechamps.co.za of stuur ‘n e-pos aan charlotte@agriexpo.co.za vir meer inligting.

Volg @AgriExpo1 op Facebook, X, Instagram en LinkedIn en gebruik #AgriExpo en #SAPreserveChamps.

LEES OOK: Top-toekenning vir expo

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article