Richard Schroeder
Richard Schroeder, wynmaker van Groot Phesantekraal, is oorstelp van vreugde toe sy chenin blanc-jongwyn as kampioenwyn bekroon is.

Geskiedenis is gemaak met eerste Kaapstad-Jongwynskou

Richard Schroeder
Richard Schroeder, wynmaker van Groot Phesantekraal, is oorstelp van vreugde toe sy chenin blanc-jongwyn as kampioenwyn bekroon is.

In ‘n geskiedkundige eerste Kaapstad-Jongwynskou is Groot Phesantekraal verlede Vrydagaand as die kampioen in dié wynstreek aangewys.

Die Kaapstad-streek sluit die wynstreke van Durbanville, Constantia, Noordhoek, Houtbaai en Philadelphia in — almal vorm deel van Kaapstad Wyn van Oorsprong.

Altesame 117 inskrywings van 14 wynprodusente vanuit Durbanville, Constantia en Philadelphia is op nasionale vlak beoordeel.

“Die idee vir ‘n Kaapstad-jongwynskou het begin, soos baie goeie idees, oor ‘n glas wyn. Ons het geglo dat hierdie wynstreke hul eie platform verdien. Die konsep is aan die bestuur van die Suid-Afrikaanse Jongwynskou voorgelê en ons was verheug toe dit goedgekeur is,” het Pieter-Niel Rossouw, keldermeester by Durbanville Hills, by die toekenningsaand in die Tangram-restaurant by Durbanville Hills gesê.

Kaapstad-Jongwynskou
Richard Schroeder (derde van regs), wynmaker van Groot Phesantekraal, hou trots die beker vir die Kaapstad Jongwynskou-streekskampioen vas. By hom is (van links) Chris Fourie (Agri Expo), Rennie Brink (Groot Phesantekraal), Jeandre Brink (Groot Phesantekraal), Riaan van Wyk en Yolanda West (beide Hillebrand Gori) en André Brink (Groot Phesantekraal). Foto: Danie Nel

Die nasionale wenners van die 194ste SA Jongwynskou word komende Vrydagaand by ‘n gala-aand by Elsenburg aangekondig.

Altesame 1 389 jongwyne is ingeskryf vir dié oudste wynkompetisie in Suid-Afrika.

Diep passie

“Ek het ‘n diep passie vir die SA Jongwynskou. Dit is veel meer as ‘n kompetisie. Dit is ‘n platform waar wynmakers kan eksperimenteer, nuwe versnitte kan toets, nuwe tegnieke kan ondersoek, en die potensiaal van nuwe kultivars kan ontdek.

“Baie van Suid-Afrika se beste wyne het hul reis begin as ‘n wyn wat by die Jongwynskou-kompetisie ingeskryf is.

“Vir baie jare het Durbanville aan die Stellenbosch-Jongwynskou deelgeneem, en ons is dankbaar vir daardie geskiedenis.

“Maar namate ons oor ons eie unieke terroir en wynstyle nagedink het, het dit al hoe duideliker geword dat Kaapstad sy eie storie het om te vertel,” het hy gesê.

“Wat daarna gebeur het, het ons weer herinner waarom die wynbedryf so ‘n besonderse gemeenskap is.

“Terwyl ons boodskappe aan vriende, verskaffers en ondersteuners gestuur het, was die reaksie onmiddellik en oorweldigend positief. Niemand het gevra waarom nie. Hulle het eenvoudig gevra hoe hulle kon help,” het Rossouw gesê.

“Hoewel dit ‘n eerste was vir die Kaapstad-wynstreek, kom dit met ‘n ryk geskiedenis wat terugdateer na 1833, toe die heel eerste Suid-Afrikaanse Jongwyntentoonstelling net hier in Kaapstad deur Agri Expo gehou is (toe bekend as die Cape of Good Hope Agricultural Society),” het hy gesê.

Die trofeewenners van die heel eerste Kaapstad-Jongwynskou hou hul trofeë omhoog.
Al die trofeewenners van die heel eerste Kaapstad-Jongwynskou hou hul trofeë omhoog. Foto: Danie Nel

Grootste uitdagings

“Een van ons grootste uitdagings was die trofeë. Weens koste en tydsdruk het dit aanvanklik onmoontlik gelyk. Danksy Thys (Louw van Diemersdal) het ons met Breyton Milford, uitvoerende hoof van Agri Expo, in aanraking gekom. Hy het ons genooi om uit hul versameling trofeë te kom kies. Hierdie is nie gewone wyntrofeë nie; hulle dra die geskiedenis van Suid-Afrikaanse landbou, met sommige wat terugdateer tot so ver as 1922,” het hy gesê.

Breyton Milford, algemene bestuurder van Agri Expo
Breyton Milford, algemene bestuurder van Agri Expo Foto: Danie Nel

“Ons het besluit om daardie geskiedenis te behou. Om die trofeë waarlik uniek aan die Kaapstad-Jongwynskou te maak, het ons die voetstukke met iets spesiaals vervang. Fritz van FS Smit in Paarl het ingestem om nuwe eikehoutvoetstukke uit die dawwe van ou KWV-eikevate te vervaardig. Die hout wat vir hierdie voetstukke gebruik word, word op tussen 250 en 300 jaar oud geskat.

“Dink net ‘n oomblik daaroor na. Hierdie trofeë dra eeue se geskiedenis in hulle.

“Vanaand begin ons om ‘n nuwe hoofstuk by daardie storie te voeg. My hoop is dat oor jare heen wynmakers op hierdie aand sal terugkyk as die begin van iets betekenisvols — ‘n platform wat innovasie, uitnemendheid, vriendskap, en die unieke karakter van Kaapstadse wyne vier,” het hy afgesluit.

Unieke skou

Christo Pienaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA), het gesê ‘n jongwynskou is uniek. “Dis die wêreld se tweede oudste en Suid-Afrika se heel grootste wynskou.

“Die jongwynskou bied elke jaar die geleentheid om die pas afgelope oesjaar in oënskou te neem. Dit is die enigste wynskou wat slegs huidige oesjaarwyne beoordeel, en dit gee erkenning aan wyne in hul eerste produksiejaar, ” het Pienaar gesê.

Emile Joubert, bekende wynskrywer
Emile Joubert, bekende wynskrywer, was die seremoniemeester. Foto: Danie Nel

“Die kompetisie beoordeel wyn in sy rouste formaat, waar wyne in baie gevalle nog geen breimiddels of sommige byvoegings gekry het nie. Die jaarlikse jongwynskou dien steeds as ‘n maatstaf vir die gehalte van jong wyne en verskaf waardevolle terugvoer aan wynmakers.

“Nadat ‘n wynmaker sy jongwynskou-uitslae gekry het, het hy nog kans om die wyne te ‘finish’ voordat hy of sy die wyn bottelgereed kry.

“Die SA Jongwynskou is een van die baie min formele wynkompetisies ter wêreld waar huidige oesjaarwyne in ongebottelde formaat beoordeel word.

“Die jongwynskou gaan oor veel meer as die beoordeling van ‘n nuwe oes. Dit is ‘n venster op die toekoms van ons wynbedryf ‘n plek waar gehalte erken word, talent ontwikkel word, nuwe idees ontmoet en waar ons saam kan vier wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf vir ons in die komende jare kan bied,” het hy gesê.

LEES OOK: Groot Phesantekraal is nasionale wenner in 2026 SA Terroir-toekennings

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article