Die Groot Phesantekraal-wynlandgoed se 2024 Groot Phesantekraal Pinotage is verlede Woensdagaand as een van die land se voortreflikste wyne uit amptelik afgebakende terreine in die 21ste jaarlikse SA Terroir-wyntoekennings by die Lanzerac Hotel en Spa aangewys.
Dié wyn was een van 38 nasionale wenwyne in die kompetisie — die enigste uit die Durbanville-wynlandgoed wat dié eer te beurt geval het.
Die ses top trofeë is aan wynprodusente uit vyf verskillende terreine toegeken. Boonop het al die nasionale wenwyne van die verskillende wynkultivars en -style uit 16 terreine in die wynareas gekom.

Terroir is die basis waardeur die natuurlike omgewingselemente soos grond, topografie en klimaat saamwerk om verskillende geure en karakters te lewer in wyne van dieselfde druif variëteit wat op verskillende terreine gekweek word. Slegs wyne wat by die Wyn- en Spiritusraad gesertifiseer is as wyn van oorsprong van ‘n spesifieke wyk, ‘n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, ‘n landgoed-geproduseerde wyn en ‘n enkelwingerdwyn mag aan die terroir-kompetisie deelneem.
Algehele wenwyn
Die algehele wenwyn uit al die inskrywings kom van Ghost Corner Wyne in die Elim-wyk by Cape Agulhas, naamlik die Ghost Corner Sémillon 2024, wat daarmee die 2026 SA Terroir-trofee vir die Top-wyn ingepalm het.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat Ghost Corner Wyne met dié trofee wegstap nadat hulle dit verlede jaar met hul 2024 Sauvignon Blanc gewen het. Die Ghost Corner Sémillon is ook ‘n wyn wat 500 km ver van hul mees suidelike wingerde in die land deur Cederberg Cellars gemaak word.
Top-produsent
Die Arbeidsgenot-wynkelder van Wolseley het uitstekend presteer deur vanjaar twee trofeë te verower. Hulle het die SA Terroir-trofee vir die Top-produsent ontvang, terwyl die 2026 SA Terroir-trofee vir die Top-enkelwingerdwyn aan die 2025 Arbeidsgenot Tannie Esther Muscat D’Alexandrie Straw Wine toegeken is.
Die trofee vir die Top-landgoed is soos verlede jaar weer deur die Bon Courage-landgoed in Robertson, ‘n gereelde presteerder in die Terroir-kompetisie, losgeslaan. Hulle het dié trofee reeds vier keer vantevore ingepalm — in 2025, 2019, 2015 en 2013.
Top-erfenis
Die trofee wat verlede jaar ingestel is vir die Top-erfeniswyn (Old Vine), is deur die Stettyn-kelder van Villiersdorp verower met hul Stettyn Old Vine Chenin Blanc 2025. Hierdie wingerd is in 1984 aangeplant.
Die kategorie Erfenis-wingerde – wat wingerde van 35 jaar en ouer behels – het benewens die Stettyn Old Vine Chenin Blanc 2025 ook ‘n rooiwyn-wenner opgelewer. Dit is die Stellenbosch 1679 Old Vine Pinotage 2023 van die Koelenhof-wynkelder.
Uit al die nasionale wenners wat aan die verskillende kultivars en wynstyle toegeken is, was 17 landgoedwyne en 10 enkelwingerdwyne.
Vier nasionale wenners
Behalwe hul twee trofeë, het Arbeidsgenot met die louere weggestap deur vier nasionale senners op te lewer. Agt deelnemers het uitgeblink met twee nasionale wenners. Hulle is Benguela Cove, Bergsig-wynlandgoed, Bon Courage-wynlandgoed, Cederberg Cellars, Lourensford-wynkelder, Springfontein, Villion Wyne en Vrede en Lust.
Nuwelinge
Nuwelinge wat vir die eerste keer nasionale wenners opgelewer het, is Fryer’s Cove Hollebaksstrandfontein Sauvignon Blanc (gehout) 2025, Groot Phesantekraal Pinotage 2024 en Manley Viognier 2026.
Enkelkultivar-wyne vorm ‘n belangrike deel van hierdie kompetisie, asook kleiner volume wyne waarvan al die druiwe uit een enkelwingerd kom.
Altesaam 38 wyne van al die verskillende ingeskrewe kultivars en style het met die hoogste punte as nasionale wenners uitgeblink. Benewens die trofeë en nasionale wenwyne, word die topwyne in die verskillende gebiede ook aangewys.
‘n Gesprek met die topwyn se wynmaker en hoogtepunte van die toekenningsgeleentheid word op Saterdag 22 Augustus op kykNET se program OntbytSAKE op die kanale 144 en 145 gebeeldsend.
Beoordelaars
Die beoordelaarspaneel het bestaan uit vyf Kaapse wynmeesters: Jeff Grier, wynkonsultant (voorsitter); Conrad Louw, gereelde lektor by die Kaapse Wynakademie en wynkompetisie-beoordelaar; Lieza van den Heever, bemarkingsbestuurder by Merwida; Anton Swarts, senior wynmaker en wynaankoper by Spier, en Janine van Zyl, ‘n gekwalifiseerde sommelier.
. Die volledige lys van nasionale wenners is beskikbaar op die webwerf www.terroirwineawards.co.za.






You must be logged in to post a comment.