Twee jongwyne van Durbanville is die beste in hul kategorie in Suid-Afrika

Groot Phesantekraal
Chris Fourie (heel links), president van Agri-Expo, en Christo Pienaar (heel regs), voorsitter van SANWSV, by (van links) Rennie Brink van Groot Phesantekraal en Richard Schroeder, wynmaker.

Twee jongwyne van Durbanville is die beste in hul kategorie in Suid-Afrika

Groot Phesantekraal
Chris Fourie (heel links), president van Agri-Expo, en Christo Pienaar (heel regs), voorsitter van SANWSV, by (van links) Rennie Brink van Groot Phesantekraal en Richard Schroeder, wynmaker.

Twee wyne van die Durbanville-wynvallei is verlede Vrydagaand bekroon as Suid-Afrika se beste jongwyne in hul kategorieë in die strawwe nasionale SA Jongwynskou.

Dit is die 2026 Chenin Blanc (gehout) van Groot Phesantekraal en die 2026 Shiraz (gehout) van die Diemersdal-wynlandgoed.

Diemersdal se 2026 shiraz is beste jongwyn in afdeling.
Chris Fourie (heel links), president van Agri-Expo, en Christo Pienaar (heel regs), voorsitter van SANWSV, by (van links) Gerrit Visser (wingerdboukundige), Tienie Louw Jnr, Leana Coetzee (junior wynmaker) en Juandré Bruwer (wynmaker) van Diemersdal-wynlandgoed.

Hierdie jaarlikse skou vir wyne van die huidige oesjaar word aangebied deur die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) in samewerking met Agri-Expo, wat steeds nóú betrokke is by die hierdie merkwaardige kompetisie as die oorspronklike eienaar en sy verbintenis as beskermheer tot vandag handhaaf.

Nuwe streek

Die SA Jongwynskou het vanjaar geskiedenis gemaak deurdat ‘n nuwe streek by die oorspronklike agt streke deur die SANWSV bygevoeg is.

Die produsente van Kaapstad, wat in 2017 as Wyn van Oorsprong-gebied afgebaken is, het aansoek gedoen om as ‘n nuwe streek te kan deelneem, nadat hulle tot verlede jaar deel van Stellenbosch was.

Kaapstad, een van die 12 groot wynhoofstede van die wêreld, sluit die wyke Durbanville, Constantia, Houtbaai en Philadelphia in.

Die nuwe streek het sommer met die intrapslag buiten die twee nasionale kampioene ook vier klaswenners en vyf goue medaljes opgelewer.

Gehoute pinotage

‘n Gehoute pinotage van Wellington Wines is bekroon as die SA Kampioen-jongwyn van 2026, nadat dit ook as die beste pinotage aangewys is. Dit is die derde keer dat dié wynmakery die trofee as algehele wenner verower.

Wellington het ook in 2018 dié prestasie behaal, ook met ‘n pinotage-wyn, en in 2023 met ‘n cabernet sauvignon.

KWV het die Pietman Hugo-trofee vir die derde keer gewen as die wynmakery wat die meeste punte met sy vyf beste ingeskrewe wyne behaal het. Dit is die tweede keer agtereenvolgens dat KWV met dié trofee wegstap nadat hulle dit verlede jaar, asook in 2015, losgeslaan het.

Hulle het uitgeblink deur drie nasionale trofeë te verower, naamlik vir die KWV Sauvignon Blanc (gehout), KWV Petit Verdot (gehout) as die beste ander rooi kultivar en met die KWV Petit Verdot/Pinotage/Carignan (gehout) as beste rooi versnit.

Spogdinee

Die kompetisie se indrukwekkende versameling nasionale trofeë is oorhandig by ‘n spogdinee wat deur Agri-Expo by die Elsenburg-landboukollege aangebied is. Altesaam 52 wyne het klaswenner-status behaal en 117 wyne het goue medaljes ontvang.

Vanjaar se 1 387 inskrywings is deur 88 spesialis-beoordelaars op 13 panele in oënskou geneem.

Die beoordelaars was dit eens dat die gehalte van die 2026-wyne puik is, ondanks ‘n uitdagende parstyd wat wingerdboukundiges en wynmakers se tegniese vermoë deeglik beproef het, lui ‘n mediaverklaring.

Beste vertoning

Die voorsitter van die SA Jongwynskou, Christo Pienaar, het gesê die gehalte van die jongwyne het vanjaar besonder beïndruk. Ondanks die uitdagende omstandighede het die sleutelkultivars deurgaans uitnemende wyne opgelewer, met sterk geurkonsentrasie, gebalanseerde sure en suikers, asook uitstekende kleurontwikkeling in rooiwyne, het hy gesê.

“Dit is opwindend om Kaapstad as nuwe streek hartlik welkom te heet by die SA Jongwynskou en verblydend dat die nasionale wenners van oor die land se wynproduksiegebiede kom, sowel as van ‘n verskeidenheid tipes wynmakerye. Die SA Jongwynskou bly ná 194 jaar steeds relevant vir die wynbedryf. Dit gee ‘n waardevolle eerste kykie na die gehalte en potensiaal van die nuwe oesjaar, asook vroeë aanduidings van nuwe wyne en wyntendense.”

LEES OOK: Geskiedenis is gemaak met eerste Kaapstad-Jongwynskou

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article