Die konynprobleem in die Durbanville-begraafplaas het onder die loep gekom by die maandvergadering van Subraad 7 van die Stad Kaapstad eergister (Woensdag 15 April) nadat die tonnels wat die konyne grawe, glo grafte beskadig het.
Dit kom te midde van ‘n beweerde skietery op die konyne, asook dreigemente om die konyne te vergiftig.
Beskadig tuine
Gerhard Fourie, voorsitter van Subraad 7 van die Stad Kaapstad, het in sy voorsittersverslag gesê die subraad ervaar ‘n kommerwekkende situasie waarin mense hul troetelkonyne in die begraafplaas loslaat. “Dit is nie net wreedheid teenoor diere nie, maar die konyne veroorsaak ook baie skade aan die begraafplaas. Dié Europese konyne is ‘n indringerspesie wat vinnig aanteel. Hulle grawe tonnels onder historiese grafstene en veroorsaak dat dit ineenstort. Hul gegrawe beskadig ook die tuine,” het hy gesê.
Fourie het ‘n beroep op inwoners gedoen om nie die konyne te voer nie.
“Die Stad se parke en rekreasiedepartement onderhandel met ‘n reddingsgroep om die getal konyne te verminder deur sterilisasie en huise vir hulle te vind,” het hy gesê.
Mense moet kwessies rondom konyne by die Stad rapporteer by die oproepsentrum by 021 480 7700, het hy versoek.
Erfeniswaarde
Theresa Uys, raadslid vir Wyk 112, het daarna gesê die Durbanville-begraafplaas geniet erfeniswaarde weens die ouderdom van sommige grafte. “Toe ons ‘n heining om die begraafplaas laat oprig het, moes ons aansoek om toestemming doen, en is die muur met spesiale erfenisvoorwaardes goedgekeur.”
Volgens Uys het die struktuur van die gedenkmuur in die begraafplaas begin verswak, en het dit begin insak en skade opgedoen.
“Mense wat blomme by hul geliefdes se grafte sit, kla ook dat die blomme verdwyn. Ek het ook al klagtes van drie mense ontvang wat gekla het dat hul geliefdes se grafte beskadig is. Hul gegrawe saai ook verwoesting in die tuine,” het sy gesê.
“Die probleme kom al sedert 2020 aan. Daar is konflik tussen die inwoners wat strooi en plastiekbakke met water en kos vir die konyne uitsit, en mense wat grafte in die begraafplaas besoek.” Uys het gesê beweringe dat daar op die konyne geskiet is, is onwaar. Volgens haar is die klankbaan vir ‘n TV-program van VIA enkele maande gelede in die begraafplaas geskiet, maar is geen regte ammunisie of koeëls gebruik nie.
‘Geen skietery’
Volgens Uys het die sekerheidsmaatskappy by die begraafplaas bevestig dat geen skietery in die begraafplaas deur hul sekerheidswagte aangeteken is nie.
” ‘n Bekommerde inwoner het drie jaar gelede die bestuurder van die parke-afdeling kom sien oor houers en bakke in die begraafplaas wat hulle daar vir die konyne uitsit, verwyder word. Waterhouers is teen bome vasgekap; dit het sleg gelyk. Na klagtes deur die publiek oor die gemors, is die werkers in die begraafplaas opdrag gege om dit weekliks te verwyder,” het Uys gesê.
“Die Stad het ‘n heining opgerig om die straatmense daar uit te hou, nou sit ons met die probleem dat die konyne verskuif moet word. Dit gaan oor die veilige hervestiging van die konyne, maar ook oor die beskerming van die grafte; ons moet na altwee kante van die saak kyk,” het sy by navraag aan TygerBurger gesê.
Leuen
‘n Woordvoerder van die groep inwoners wat die konyne in die begraafplaas versorg, beweer dit is ‘n leuen dat geen skietery plaasgevind het nie.
“Ons moes onlangs twee konyne uitsit omdat hulle bene deur koëels vergruis is. Ek sit nou weer met ‘n konyn wat sowat drie weke gelede raakgeskiet is. ‘n Veearts het die koeël verwyder; daar is X-strale as bewys. Klagte is ook by die polisie aanhangig gemaak,” het sy gesê.
“Die grafte val nie in omdat die konyne tonnels grawe nie; dit val in, omdat die begraafplaas kleigrond het en die grafte insak. Die konyne skuil eenvoudig in die swak gekompakteerde grafte. Die grafte is ook jare gelede al deur vandaliste beskadig,” het die woordvoerder gesê.
“Daar is geen klagtes van die publiek nie. Inteendeel, as ons hulle in die begraafplaas kry, bedank hulle ons vir die optel van gemors en ons hulp met aanwysings. Daar is geen plastiekhouers. Niks is teen bome vasgekap nie.
“Die begraafplas is vuil, omdat die werkers sonder enige toesig is en vir ure op hul fone sit. Dromme word vir maande nie skoongemaak nie,” het sy gesê.
Vriende van Durbanville-begraafplaas
Volgens die woordvoerder is sy besig om ‘n Vriende van die Durbanville-begraafplaas-groep te stig.
Voorts, het sy gesê, is daar niemand wat die konyne gaan verwyder nie.
“Die sogenaamde nie-regeringsorganisasie wat die raadslid beweer die konyne gaan verwyder, is ons. Maar ons kan nie, en gaan nie Durbanville se konynprobleem oplos nie. Solank as troeteldierwinkels ongesteriliseerde konyne verkoop, sal die probleem voortduur. Selfs al sou ons elke konyn in die begraafplaas doodmaak, sal mense binne ‘n maand weer hul konyne daar kom loslaat,” het sy gesê.
“Ons het onlangs 25 ongesteriliseerde en siek konyne uit die begraafplaas verwyder wat iemand daar kom loslaat het. Die wagte het weereens niks gesien nie. Net ‘n maand gelede het ons twee mak troetelkonyne gevang en verwyder.
“Ons betaal uit ons eie sakke vir die sterilisering, mediese versorging en verhuising van die konyne.”
READ ALSO: No more Easter bunny





